As Profeet maak Christus God se wil aan ons bekend.
God praat met mense deur ‘n mens wat tegelyk ook God is!
Merkwaardig! Net God kan dit doen! Christus is die groot Profeet
wat as mens én as God, tussen mens en God staan!.. om God se wil
aan mense te openbaar en te verklaar. Hebreërs 1:1-2: “In die verlede
het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat
deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons
gepraat deur die Seun”. Hierdeur het God sy wil so naby soos die Bybel
aan ons gebring. Daarin hoor ons Christus as Profeet van God praat en
maak Hy God se wil aan ons bekend. Ons het werklik nie visioene,
drome en ekstatiese ervarings nodig nie. Christus is genoeg!
In Christus het God sy hart uitgepraat!
As Priester is Christus die Hoëpriester, wat ons gebede direk na God
toe neem! Ons wéét dat die Vader dit hoor. Ons weet ook dat Hy ons
gebede sal verhoor! Hebreërs 8:1 sê ons het ‘n Hoëpriester,
Jesus Christus: “Ons het ‘n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die
regterhand van die troon van die Majesteit in die hemel”. Ons kan net
uitroep, in dankbaarheid uitroep: “Here Jesus, dankie dat U die kloof
tussen my en my Vader oorbrug! Juis as ek bid!”
As Koning is Christus ons Koning soos geen ander koning nie!
Hy heers oor die wêreld en wêreldgeskiedenis! Maar Hy doen dit ook
as Herder! Hy lei as Koning in liefde en barmhartigheid! Dink net aan
Psalm 23: “Die Here is my herder...” Die Herderlike liefde van God sien
ons nêrens duideliker as in Christus nie. As goeie Herder lê Hy sy lewe
af vir sy skape – Johannes 10:11. Aan die kruis is Christus gespot as die
“koning van die Jode”. Met ‘n doringkroon en ‘n rietsepter... Hy is in ‘n
graf neergelê, maar die graf kon Hom nie hou nie! Want hierdie
Koning-Herder is God!... is Here! En: dié Here is mý Herder!
Ons kan eenvoudig nie genoeg sing nie:
“Hy wat as die oorwinnaar staan, kom op die wolke weer:
hef al wat leef jul loflied aan en dien Hom, volg Hom, loof Hom:
Koning, Herder, Heer!”
Ernest