Jesus is meer as ‘n volmaakte voorbeeld van menswees.
Meer as ‘n “held”. Meer as die toppunt van die menslike ras.
Meer as iemand wat wonderlike ideale van liefde, geregtigheid
en vrede verkondig het. Meer as iemand wat selfs bereid was
om daarvoor te sterf. Dit is alles waar, maar dit is nie al wat ons
oor Jesus kan sê nie. Alles behalwe! Die belangrikste van alles is
dat Hy en Hy alléén, die Verlosser van mense is! Oor die feit dat
Jesus die Verlosser is, laat die Bybel geen twyfel nie.

Jesus is gebore met die doel om die volk van hulle sondes te
verlos – Matteus 1:21. Hy het op aarde kom verskyn om ons
vry te spreek – Titus 3:5. Hy is nie ‘n “superster” mens om maar
net deur ander mense bewonder te word nie. Wie is Hy?
Hy kom van God en ís God!

Wanneer die Bybel en die Apostoliese Geloofsbelydenis praat
van “die eniggebore Seun van God”, dan is dít presies wat daarmee
bedoel word. Dit is die hart van die evangelie.
Martin Luther het gesê: “Wie aan die ware Godheid van Christus
iets afdoen, verloor later die hele Christendom...”
Ons is nie bewonderaars nie, maar verlostes van en in Christus!
Daarom kan ons met die lied “Stille Nag” sing: Jesus, Lig uit Lig,
uit die Vader se ryk, word uit liefde aan mense gelyk. Kind, maar
hemels. Loof dié hemelse Kind!

“Eniggebore Seun van God” beklemtoon: Jesus is God. Hy het gesê:
“Ek en die Vader is een.” – Joh 10:30. Die “eniggebore Seun van God”
het nie eers ‘n beginpunt hier op aarde gehad nie.
Hy was van ewigheid by God, en is Self God. Johannes beskryf dit in
Johannes 1:1-2: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was
by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God.”

Die wonderlike waarheid vir ons is:
Dié “eniggebore Seun van God”,
die ewige God self, wou uit eie wil waarlik mens word,
om my te kom verlos en die prys van sonde te betaal.
Dankie Here Jesus! U verlede is my toekoms!

Ernest