Jesus wys nie net die weg na die waarheid aan nie. Hy is die waarheid!
Jesus self... is die waarheid. Dink maar aan die grootste “geestelikes” in
die mensdom wat geestelike leiers was, soos Boeddha en die profeet
Mohammed. Aan die einde van sy lewe kon Boeddha net sê: “My leringe
wys die weg aan om die waarheid te vind.” Mohammed kon net sê:
“Die waarheid is aan my geopenbaar.” Die wyse mense soek deur eeue na
die één waarheid, maar hulle redeneer op verskillende maniere daaroor.

Jesus was die enigste “geestelike leier” wat nie net oor die waarheid
gepraat het, en saam met ander geestelike leiers daarna gesoek het nie.
Hy Self is die Waarheid in die diepste sin van die woord! Dit is ‘n absolute
waarheid wat as’t ware die skepping skuif!... om nie eers te praat van hoe
mense oor die waarheid redeneer nie. Hy is die enigste wat sterf vir die
verlossing van die mens van sonde en die dood. Kort voordat Hy vir die
verlossing van mense aan die kruis sou sterf, het Hy aan sy dissipels gesê:
“Ek is die weg en die waarheid en die lewe” – Joh. 14:6.
Jesus is die waarheid!

Die Christelike geloof is dus nie gegrond op ‘n stelsel van sedelike waardes
of voorskrifte nie, maar uniek, gerig op ‘n Persoon! Jesus Christus, die Here!
Om die Christelike geloof te bely en uit te leef, is om kennis te hê van dié
Waarheid met ‘n hoofletter, en vir Hóm te leef! Dit is nie om bloot ‘n ideaal
na te jaag nie, maar in blydskap en dankbaarheid te lééf saam met jou
Verlosser! Die middelpunt van die evangelie, is ‘n Persoon! Jesus Christus!
Hy is die weg en die waarheid en die lewe! My hart roep uit:
Here Jesus, dankie dat die Waarheid my vry maak, U Self, die Waarheid!

Ernest