Wanneer ons bely dat Jesus die eniggebore Seun van God is,
bely ons daarmee dat Hy uniek is. Totaal uniek. God self!
Niemand kan soos Hy wees nie. Niemand kan soos God wees
nie. Jesus was só uniek dat ‘n mens van Hom net een van vier
sienings kan hê:
Eerstens: Jy kan glo dat Hy ‘n leuenaar was, wat daarop aanspraak
gemaak het om God se Seun te wees, en sy boodskap te bring om
mense doelbewus te mislei. Hieroor moet ons egter sê: Dit sou ‘n
groter wonderwerk gewees het om ‘n lewe soos dié van Jesus
Christus te versin, as om dit te wéés.
Tweedens: ‘n Mens sou kon redeneer dat Jesus ‘n waansinnige
was wat op ‘n siek wyse mense beïnvloed het. Dit is nié sommer-so
af te lei nie. Gaan lees maar net die lewensverhaal van Jesus in die
Evangelies. Hy was allesbehalwe kranksinnig. Hy was by uitstek ‘n
gesonde en gebalanseerde Persoon. Die gebeure het dit dikwels
bewys.
Derdens: Jy sou eenvoudig die boodskap van Jesus kon ignoreer.
Dit is moontlik die mees tragiese wat jy daarmee kan doen!
Vreemd genoeg sien ons deur die geskiedenis dat sogenaamde
ateïste juis sterk teen Jesus sal uitvaar, en alles probeer om mense
anders te oortuig, maar dit nié regkry om Hom bloot te ignoreer
in hulle lewe nie. Vreemd...
Vierdens: Jy glo en bely presies wat die Bybel oor Hom sê:
Hy is: God! Hy is God wat aan ons die ewige lewe gee!
“Ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee
het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun,
Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe” – 1 Joh. 5:20.
Eers as jy dit glo, verstaan jy, en lewe jy! Vir ewig!
Ernest