Wanneer ons met ons Geloofsbelydenis bely dat ons glo in Jesus Christus,
eniggebore Seun van God, “ons Here”, is hierdie woorde “ons Here” baie
belangrik. Daar lê geweldig baie troos in die woordjie “ons”. “Ons Here.”
Dink net daaraan: Ons kan die eniggebore Seun van God “ons” Here noem.
Hierdie “ons” verwys na die gemeenskap van gelowiges. Ons is altyd saam
Christene. Jy is nie alleen Christen-gelowige in jou hoekie nie.
Tog is die “ons” ook indiwidue wat elkeen sê en bely: Ek glo! Jesus is ook
my Here. Saam is ons ook gelowige kinders van God wat gereeld saam
hardop bely in die erediens.

Christus is Here! Oor die ganse heelal. Abraham Kuyper is bekend vir sy
beskrywing: “Elke duimbreedte van ons bestaan behoort aan die Here.”
Sy heerskappy, sy Heerskap, omvat die lewe in al sy fasette: wetenskap,
politiek, ekonomie, natuur, kuns, mense-verhoudinge met alle mense op
alle vlakke.

Ons verhouding met die Here kan nie in kompartemente gedeel word
waar dit geld of nie geld nie. Ons is nie weeksdag mense en Sondag
Christene nie. Iemand het gesê daar is so min van die kerk in die wêreld
sigbaar, omdat daar so baie van die wêreld in die kerk sigbaar is.
Ons moet die Here van Maandag tot Sondag eer as die Here van ons lewe,
anders is ‘n Sondag-Christen ‘n bedrog lewe.
Ons moet bely: Here, hier is my hele lewe, elke duimbreedte,
elke millimeter daarvan, van kop tot tone,
van kamer tot kerkbank tot kantoor.

Die Heer-skappy van die Here strek oor alles en almal. Ook tot in
die diepste van my hart. ‘n Sendeling het jare gewerk en gebid:
“Here, gee tog herlewing onder hierdie heidene...” Niks het gebeur nie,
vir jare. Een dag het hy in sy binnekamer met ‘n stuk kryt ‘n sirkel op die
vloer getrek, en in die sirkel gekniel: “Here, gee tog herlewing onder
hierdie heidene. Begin tog ín hierdie kring Here, in hierdie hart wat voor
U kniel, in hierdie sirkel, in my eie wilde hart”. Herlewing het deurgebreek!

Bid vir herlewing in jou eie hart. Dien die Here as Here van jou lewe met
jou eie hele hart! Kom ons trek elkeen ons sirkel, en kniel voor óns Here,
jóú Here, mý Here.

Ernest