Karl Barth is by geleentheid gevra wat hy van die duiwel dink.
Hy het nagedink en geantwoord: "Ons hoef die duiwel nie te vrees nie."
Verbaas het die omstanders gevra of dit ál is?
Hy het nadenkend bygevoeg: "Christus het hom mos rééds oorwin!
Hy is die Here. Die enigste Here. Ons Here!"
Natuurlik moet ons die duiwel nie onderskat nie. Maar Karl Barth het
beklemtoon dat ons hom verseker ook nie moet óórskat nie. Die gevaar
is dat Christene dikwels so op die duiwel konsentreer, dat Christus as
Here uit hul gesigsveld verdwyn. 'n Leraar het gesê: Die beste is om die
duiwel een indringende kyk te gee in die Naam van die Here, en hom
verder te ignoreer deur voluit vir die Here te leef!
Sommige gelowiges is so besig om teen die duiwel te veg, en hom te
beveg, en hom orals te probeer uitsnuffel, dat hulle uiteindelik nie tyd
en energie oor het om eenvoudig voluit vir die Here te leef nie!
Die duiwel is werklik al die aandag wat hy dikwels kry nie werd nie.
Christus, ons Here, is al ons aandag en ons hele lewe werd! Die beste
manier om die Bose en sy werke in die wêreld en in jou eie lewe te
beveg is om die Here Jesus Christus te loof en te prys met jou woorde
en jou dade. Hou jou oog op Hom! Lees Kolossense 2:13-15!
Vers 15 is oorwinnend!... "Hy het die bose magte ontwapen en hulle
in die openbaar vertoon, deur hulle as gevangenis in die triomftog van
Christus mee te voer." Die Bose en sy bose magte is rééds deur God
"ontwapen" en word soos die oorwonne gevangenis van destyds
"in die triomftog van Christus" meegevoer.
Die Here is die Oorwinnaar!
Ons ís bevry! Leef voluit vir Hom! Jesus is Here!
Bely dit en leef dit in die Here se oorwinning oor die Bose!
Ernest