“Jy mag naas My geen ander gode hê nie...” – Eks. 20:3.
Martin Luther sê opmerking hieroor is wyd bekend:
“Jou God beteken dié Een wat jy as die bron van alle goed beskou
en wat in alle tye van verdriet en moeilikheid jou enigste toevlug
sal wees... Enigiets waarop jou hart staatmaak en waarop jou hart
geheel en al vertrou, dít is in werklikheid jou God.”
Met hierdie bekende woorde het Martin Luther bedoel dat enigiets
of enigiemand – naas Christus – waaraan ons ons harte ophang,
en waarop ons ons vertroue stel, ‘n afgod kan word.
Hierdie is baie belangrik om te besef. Dit raak selfs mense
en dinge die naaste aan ons.

Niemand kan gelyktydig twee here met dieselfde volle oorgawe
dien nie. Daarom waarsku Eksodus 20:3 ons hierteen. As Here van
ons lewe eis Christus onverdeelde trou van ons. Hy alleen het volle
eiendomsreg op ons. Ons behoort aan Hom alleen!
Daar is egter so baie ander dinge wat ons as mense verabsoluteer.
Ons heg soveel waarde daaraan dat dit afgode in ons lewe word,
wat Christus uitdruk uit ons lewe uit as enigste Here. Ons doen dit!
Ons self!

Daarom moet ons werklik met baie wysheid bestek opneem van
hóé en vir wíé ons regtig lewe. Hoe belangrik is jou werk, jou sosiale
status, jou eie liggaam, jou sport, jou politiek, volk en vaderland vir
jou in jou lewe. Dit kan werklik te belangrik raak. Dit gebeur wanneer
dit belangriker geraak het as die Here Self! Dit gebeur selfs in terme
van jou geliefdes wat die naaste aan jou is.
Het jy hulle meer lief as die Here?...

Balans is hier die hoofsaak. Die Here bedoel al hierdie dinge vir ons
en ons ontvang dit alles in die eerste plek van Hom af. Ons moet dit
egter in waarheid en perspektief sien, in verhouding tot Hom!
Dit alles en almal in betreklikheid tot Christus ons Here!
Hierdie waarheid moet ons lank en opreg op ons knieë deurdink,
in eerlikheid met onsself, by die Here... Doen dit!

Ernest