In ons eie krag is ons soos ‘n strooihalm in die stormwind.
In Christus se krag en by Hom is ons beskerm onder sy heerskappy.
“Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder
die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet” – Kol. 1:13.
‘n Sikloon is ‘n verwoestende natuurverskynsel. Alles word meegesleur
deur die geweld daarvan. Tog sê wetenskaplikes dat as jy presies in die
middel van die sikloon sou kon kom – hulle noem dit die oog van die
storm – dit vir jou doodstil en kalm sou voel. Dit is merkwaardig.
So is dit ook in ons verhouding met die Here. In hierdie wêreld woed
storms om ons. Wanneer ons hierdie storms en bose magte sonder
die Here wil aanpak, word ons meegesleur en verpletter. Soos ‘n
strooihalm in die stormwind. Wanneer ons egter binne die heerskappy
van die Here in ons lewe skuil, dan kan die storms rondom ons maar
woed. En al is ons midde in die storms, is ons in sy kalmte en vrede.
Soos in die oog van die storm.
God het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die
heerskappy gestel van sy Seun! In Hom, die Seun, is daar kalmte en
vrede te midde van storms. Moet nooit die storms onderskat nie.
Maar moet verseker nooit ooit die krag van God, in Christus, in die
storm onderskat nie!
Alles wat ons as storms beleef mag realiteite wees, maar daar is die
allesoorheersende realiteit van Jesus Christus: Christus is die Here!
“Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef...” – Ef. 1:22.
Werklik, alles wat op hierdie aarde, ook as gevolg van ons skuld,
mag verkeerd loop, is nie groter as Christus die Here nie!
Alles moet uiteindelik voor sy troon gaan draai.
Wees in voorspoed dankbaar, en in teenspoed geduldig.
God is in beheer. Ons leef nie onder die blinde noodlot nie.
Ons leef nie maar in “geluk” of “ongeluk” nie. Die Here regeer,
al is ons mense se hele wêreld omgekeer. Die wêreld draai nie
net om die son nie. Die hele kosmos-skepping draai om God!
Leef in die storms in die kalmte en vrede van die Here.
Ernest