Die derde artikel van ons Apostoliese Geloofsbelydenis sê:
“... wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria...”
Ek glo in Jesus Christus... wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria. Dit beklemtoon weereens die
Godheid van Jesus. Dit bly ‘n Goddelike misterie. Dit dwing ons net tot
aanbidding. Dink net: Die-Seun-van-God-in-die-menslike-natuur...
Gebore uit ‘n maagd. God se werk, groter as ons begrip. Ons kan dit nie
logies verklaar nie. Wie kan tog vir God logies onder beheer kry? God is
aan niks onderwerp nie, veral nie aan menslike logika nie. Ons reageer
net met verwondering, lof en aanbidding.

Geen mens word uit vrye wil op aarde gebore nie. Jy het self geen beheer
oor jou geboorte nie. Ons kan hoogstens sê ouers kon daaroor besluit,
onderhewig aan God wat lewe skep. Die enigste Een wat uit vrye wil na
hierdie wêreld gekom het is Jesus Christus. Hy het geweet “waar Hy
vandaan gekom het en waarheen Hy sou teruggaan.” – Joh. 8 :14.
En tog was Hy gewillig om gebore te word en te kom ly vir mý redding!
Ons kan bid: Here Jesus, dankie dat U, U nie laat keer het deur die
boosheid van die wêreld nie, maar na ons toe gekom het. Dankie veral
dat U nie besluit het om my hart se boosheid net te los nie, maar mý
kom red het van myself. U het na mý toe gekom.

Christus se geboorte is nie net die verloop van die geskiedenis nie.
Christus se geboorte is menslik, maar ook bomenslik, histories, maar
ook bo-histories, aards, maar ook hemels! Moontlik voel jy dat jou lewe
bloot horisontaal verloop. Dat jy vas is binne jou geskiedenis.
Onthou dan dat Jesus die geskiedenis onherroeplik verander het ter
wille van jou persoonlik. Hy het kom bevestig dat God se plan tot in
ewigheid voortgaan met jou! Jesus verstaan jou stryd in lewe en sterwe
volkome. Hy weet alles van menswees.

Ons kan bid:
Here, Ons kla so dikwels oor die sleur van gewone dinge van die lewe,
so asof dit niks nuuts of wonderlik inhou nie. Maak ons oë oop vir U
deurlopende teenwoordigheid, en help ons om dit raak te sien in die
alledaagse werklikheid.

Ernest