Die enigste “rede” hoekom God in Jesus Christus mens geword het,
was sy liefde! God kon ons net sowel in ons ellende gelaat het. Ons,
en niemand anders nie, het die sonde en skuld oor onsself gebring.
Die filosoof, Sören Kierkegaard, praat van die oneindige kwalitatiewe
verskil tussen ons en God. Oneindig! God is alles wat ons nie is nie.
Ons is alles wat God nie is nie. God is weergaloos! Hy kan met niks
in die totale skepping vergelyk word nie. Teoloë praat graag van
God as die “Gans Andere”.
Maar wat gebeur? God word mens ter wille van ons. Hy word in
Christus “sigbaar” op aarde. Só, dat Johannes in Joh. 1:14 sê:
“Ons het sy heerlikheid gesien...” Waarom doen God dit alles?
Die antwoord hierop is so diepsinnig dat die grootste denker of
teoloog dit nie kan verstaan nie, en tog weer so klein dat ‘n klein
kindjie kan! Dit is die Evangelie! Sy enigste “rede” om mens te word,
een van óns te word, was sy liefde! Wat ‘n evangelie! Vir jou!
Dit gaan in Jesus wat mens geword het om genade. Ons weet uit
ondervinding in hierdie wêreld dat niks verniet is nie. Alles kos ‘n prys.
Hierdie is die absolute uitsondering. Niks kan met God se genade
vergelyk word nie. Jy verdien dit nie en kan op geen manier terugbetaal
daarvoor nie. Nie eers met jou eie lewe nie.
‘n Sterrekundige wat ‘n Christen-gelowige was het ‘n lesing oor die
heelal gehou en vertel van die grootheid van die skepping. Die afstand
van sterre uit mekaar in ligjare, die steeds uitdyende heelal, ons planeet
wat bykans nie ‘n spikkeltjie daarin is nie... ‘n Student het opgestaan en
gevra of hy dan regtig nog glo dat God enige aandag aan óns skenk, wat
eintlik niksseggend, op ‘n niksseggende planeet is? Die sterrekundige het
geantwoord:
“Dat God omgee, hang nie af van die grootte van die heelal nie, maar van
die grootheid van God!” Juis omdat God so groot is het Hy ‘n oog vir die
kleinste. Psalm 8:5 het reeds eeue terug hierdie vraag gevra:
“... wat is die mens dan dat U aan hom dink?”
Ja, ons is klein. Skaars meetbaar in die heelal. Verdwerg, oorweldig,
uitgekanselleer deur biljoene sterre, massas materie, sonnestelsels...
En tog kies God om na hierdie planeet toe te kom. Hy het mense-spikkels
op hierdie unieke planeet geskep, en kom na hierdie mense-spikkels toe,
waarvan jy een is! Vir jou! Saam met Psalm 8:4-5 roep ons uit:
“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre
waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?”
Hoeveel dink jy eintlik van jouself? Ons kan net bid: Here Jesus, ek is eintlik
onsigbaar klein, en dink tog so baie van my self in my selfhandhawing... help,
help my om eerder te dink hoe groot U is, wat vir mý omgee, in U groot genade...
Ernest