Ons sal wetties bly leef, totdat ons God se genadewerk in ons verstaan.
Die nuwe identiteit wat ons in Christus het.
Die Heilige Gees se daaglikse genadewerk in ons.

Net die evangelie van Jesus Christus het die krag om ongelowiges te red,
en gelowiges te heilig.
Nie wette en reëls en voorskrifte en regulasies nie.
Nie eers die wet van God red ons nie.

Paulus moedig ons aan om die lewe van die nuwe mens te leef.
Ons lees in Romeine 6:7:
“Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees,
nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.”

Die Woord sê ook in Romeine 6:2 dat elke wedergeborene dood is vir die sonde.
Maar lees mooi, dit sê nie die sonde is dood nie!
Ons sondige natuur hou niks daarvan dat ons die ou mens prysgee nie.
Dit hou nie van opofferings en vasbyt nie.
Ons ou self soek altyd die maklikste weg met die minste weerstand.
Dit is soos ‘n baba wat ‘n bohaai opskop as sy fopspeen weggeneem word.
As die vlees nie sy sin kry nie, protesteer dit redeloos!

Galasiërs 5:17 sê ons sondige natuur is voortdurend in ‘n stryd
gewikkel met die Heilige Gees in ons.
Dit is ‘n heeltydse toewyding om jou vlees te kruisig,
en doelbewus aan die Heilige Gees gehoorsaam te wees.
Ons ken die frustrasie van Paulus dat ons doen wat ons nie wil doen nie,
en nie doen nie, wat ons moet doen!
God se genadige werking in jou maak jou vry,
en jou doelbewuste keuses en volharding in gehoorsaamheid eer God!

Romeine 6:16 sê ons is die slawe van wie of wat ons ookal gehoorsaam.
Daarom sê Johannes 14:15 as jy God liefhet, sal jy Hóm wil gehoorsaam!

Leef daarom voortdurend en doelbewus in die teenwoordigheid van die Here.
En onthou die Heilige Gees is jou Helper!!
Johannes 14:16-17.

Wanneer Jesus die Here is van jou ganse lewe, is jy waarlik vry!

Ernest