Picasso het ‘n skildery geskilder waarin dit voorkom dat God bo
in die hemel is en dat ons onder ‘n toe hemel woon. Dit is soos
‘n koper-koepel wat ons afsny van God af. Geen lig breek deur nie.
Die gevoel is dat God afwesig is.

Die Christelike geloof weerspreek verseker so ‘n siening. Ons glo
dat God self in sy Seun uit die hemel na ons toe gekom het. Ons glo
dat God se lig inskyn tot in die donkerste hoek van ons hart en die
wêreld. Die hemel het in die Seun van God na die wêreld gekom.
Daar is lig en uitsig en hoop! Daar is ‘n ewige toekoms.
Daar is geen situasie of plek waar jy jou kan bevind waar God se lig
nie kan skyn nie. God is nie net naby nie, maar saam met ons binne-in.
Hy sê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou” – Jes. 43:5.

Meer nog: Ons het nie ‘n God wat geen medelye met ons swakhede
het nie. Ons is dikwels in ons eie swakhede self die oorsaak van ons
grootste krisisse. Die Here Jesus het medelye met ons versoekings en
krisisse. Hebreërs 4:15 help ons om dit te verstaan:
“Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp,
maar Hy het nie gesondig nie”. Daarom kon Hy vir ons sonde betaal.
Hy het nie, soos ons, gesondig nie!

Miskien is jy vandag by ‘n kruispad of kruispunt in jou lewe.
Jy voel selfs jy is in ‘n doodloopstraat en het nie keuses voor jou nie.
Jy voel dat jy nooit weer sal kan terugkeer na die regte pad nie.
Dit is nie so nie. Weet dit vandag. God het in Christus op al die paaie
van menswees gestap, sonder om te sondig. Dit is wat Hebreërs 4:15
beklemtoon. Hy het daardeur ‘n nuwe weg vir jou kom baan.
Die weg na die waarheid en die lewe – Johannes 14:6.

Ernest