Wat is die verskil tussen die Christelike geloof en alle ander gelowe
van die wêreld? Hoekom kan ander gelowe nie op grond van hulle
geloof gered word nie? Hoekom word ons opgeroep om alle mense
oor te haal tot die Christelike geloof? Wat maak die Christelike geloof
so uniek? Wat is die spesifieke, die uitsonderlike van ons geloof –
dít waarvan Christene ander gelowe so graag van wil oortuig?
Tot redding vir elkeen wat dit glo!

Ons sou oor baie leer-verskille kon redeneer. Die heel belangrikste,
wat ons in ‘n neutedop kan saamvat, is egter die volgende:
In alle ander godsdienste moet mense “opklim” na God toe. In die
Christelike geloof kom God “af” na die mens toe. God sê in sy Woord
dat ons nie kan opklim na Hom toe nie. Geen mens kan nie:
“Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat
hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die
verlossing deur Jesus Christus.” – Romeine 3:23. Almal het gesondig,
en is ver van God af. Hulle kan nie opklim na God toe nie.
Niemand kan iets “verdien” wat jou nader aan God kan bring nie.
Jy kan niks doen nie. God doen in Christus alles! Hy kom na jou toe!
Hy het jou eerste lief!

In alle ander godsdienste van die wêreld is daar die strewe of oortuiging,
om deur sekere reëls of wette na te kom, jy op een of ander manier by
God kan “uitkom”. Weliswaar is daar soms sprake van genade in hierdie
godsdienste, maar dit moet steeds verdien word. In die Christelike
godsdiens word nie van mense gevra om hulle deur inherente vermoëns,
ingebore godsdienstigheid, of stiptelike toewyding soos byvoorbeeld
gebedstye en vastye, hulself “goed genoeg” te maak om deur God
aanvaar te word nie. Ons kan op geen manier van ons kant af by God
uitkom nie. God het na ons toe gekom. God kom steeds elke dag na jou toe.
Elke oomblik deur sy Gees wat in jou woon. God kom na alle mense toe.
Hy diskrimineer nie. Hy wil dat alle mense gered word.

Lees en oordink bogenoemde in hierdie waarheid in 1 Timoteus 2:3-6:
“So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle
mense gered word, en tot kennis van die waarheid kom. Daar is immers
net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense,
die mens Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het.
Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God.”

Die Christelike geloof is uniek omdat die enigste ware God so uniek is!
Dit laat ons bid: Here Jesus, selfs die enkele treë wat ek na U toe gee,
is U geskenk van genade aan my. Ek kan na U toe kom omdat U eerste
na my toe gekom het in U liefde vir my. Dankie Here vir U genade!

Ernest