Wat was die grootste gebeurtenis in die mens se geskiedenis?
Daar sal baie daaroor geredeneer kan word. Die Amerikaners het in
1969 die eerste man op die maan geplaas. Richard Nixon, die destydse
Amerikaanse president het gesê dit is sekerlik die grootste gebeurtenis
in die mens se geskiedenis. Neil Armstrong, wat die eerste tree op die
maan gegee het, het self gesê: “One small step for man, one giant step
for mankind.” Die ruimte is betree deur die mens. Die mens het nie net
meer uitgevaar op die see nie, maar nou ook “opgevaar” na die maan...
Tog was dit hoegenaamd nie die grootste gebeurtenis in die geskiedenis
van die mensdom nie. Dáárvan berig die Bybel van die grootste gebeurtenis
en wat daarop sou volg: “Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die
regering van koning Herodus.” – Matteus 2:1. Jesus se kruisiging,
sy opstanding uit die dood, sy hemelvaart, en ook vooruit, dat Hy weer kom!
Tot vandag toe word die wêreld se kalender deur hierdie gebeure bepaal.
Jaartellings in “voor Christus” en “na Christus”.
Die grootste gebeurtenis in die mens se geskiedenis was toe nie die mens
se eerste tree in die ruimte nie, maar die dag toe God afgedaal het na die
aarde in die gestalte van sy Seun, Jesus Christus, en sy treë hier op aarde!
Met apologie aan Amstrong: Dít... dít was verseker “one small step for God,
one giant salvation for mankind!” Maar verseker, geen geringe stap vir God
nie... Dit het uiteindelik die dood van sy Seun gekos onder die sondelas van
die mens. Dié grootste gebeurtenis, tot redding vir elkeen wat dit glo en leef!
‘n Mens kan maklik by Jesus verby kyk en nie uitgepraat raak oor die vermoë
van die mens in sy eie geskiedenis nie. Jy kan ook soos die Rus, Juri Gagarin,
in ‘n wentelbaan om die aarde geplaas word, terugkom, en dan sê dat jy God
nie “gesien” het nie, en dat Hy dáárom nie bestaan nie.
Jy kan ook in die geboorte van Christus net nog ‘n geboorte van ‘n kindjie sien.
Of jy kan in Hom God self sien.
Johannes het, soos die ander dissipels, vir Jesus letterlik gesien en getuig:
“Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met
ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak”
– 1 Johannes 1:1. Ons hoef Jesus nie in die ruimte te gaan soek nie. Hy loop
op die stofpaaie van die aarde saam met ons. In ons. Ons kan bid:
Here Jesus... Dankie dat U u voetspore op die stofpaaie van hierdie wêreld
kom laat het, en dat U steeds, saam met ons, elke dag daarop stap.
Dankie dat U ook mý pad met U kruis kom kruis het!
Ernest