God skryf nie sy skepping af nie.
Al laat óns dinge so erg verkeerd loop hier op aarde...
God bly getrou, vir altyd, sê Psalm 146:6. En, soos Psalm 138:8 sê,
Hy laat nie die werk van sy hande vaar nie. God gooi nie die skepping
weg soos ons ou skoene weggooi nie, maar maak dit nuut!
Dieselfde skepping, wat die wonde van die sonde dra, maak Hy nuut!
Daarom praat ons eerder van die herskepping (recreatio),
as van ‘n totaal nuwe skepping (nova creatio).

Juis daarom bely die Christelike kerk met ons geloofsbelydenis dat Jesus
“gebore is uit die maagd Maria”! Hy word uit Maria gebore, en is voluit
mens. Daarmee bevestig God sy trou: Hy wil hierdie wêreld, en veral by
name die mens, die kroon van sy skepping (Psalm 8:6-7)... réd!
Hy wil óns red! Jou red! Daarom is die verlossing in Christus égte verlossing.
Hy het as Mens die las van die mens se sonde op Hom geneem, en vir ons
gesterf! Jesus was ‘n egte mens! Die verlossing wat Hy vir jou bring is ég!
Hy maak jou ou lewe totaal nuut!

Jesus gebore uit ‘n maagd? Is dit moontlik? Allerhande redenasies is al
deur die eeue hieroor geopper. Die punt is: Niks is vir God onmoontlik nie!
– Lukas 1:37.
Reeds in Genesis 1:1, die heel eerste vers van die Bybel, word al groot geloof
van ons gevra. Jy moet glo dat God in die begin van alles die hemel en die
aarde geskep het. Dit is ‘n baie groter saak, saam met baie ander sake in
die Bybel, waarteen jy jou ongelowige kop kan stamp. Dinge soos:
die Heilige Gees wat in ons woon. Die geheimenis van die eenheid van God
en mens in die Persoon van Jesus Christus. Jesus se opwekking uit die dood.
Die belofte van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde.
Glo jy dit, dat God alles uit niks geskep het? Dan is dit “maklik” om te glo
dat Jesus uit die maagd Maria gebore is! Niks... is vir God onmoontlik nie.

Met hierdie belydenis, dat Jesus gebore is uit die maagd Maria,
raak ons aan die hart van die evangelie. Dit is dat Jesus waarlik mens en
ook waarlik God is. Hierdie belydenis onderstreep dit. As God kon Hy die
mens met God versoen. Net God kan. En as mens kon Hy die las van ons
sonde ten volle op Hom neem. Glo dit, bely dit, en lééf dit!

Ernest