Ware geloof sluit altyd ‘n persoonlike oortuiging in!
Die loflied van Maria in Lukas 1:46-56 beklemtoon dit.
Hierin sing Maria oor wat God doen! Sy grootheid!
Daar is soveel treffende momente in hierdie lied wat die
werk en genade van God beklemtoon.

Die eerste is: Maria bely persoonlik dat God na haar in haar
geringheid omgesien het, dat Hy aan haar groot dinge gedoen het.
God, wat die Magtige is, het hierdie gewone mens, Maria, raakgesien.

Ware geloof sluit werklik altyd ‘n persoonlike oortuiging, ‘n persoonlike
ervaring van God se dade in ‘n mens se lewe in. Dit is baie meer as om
maar net ‘n paar “objektiewe” feite oor God of Jesus te weet.
Geloof is om “subjektief” betrokke te wees.

Die tweede: Die tweede deel van Maria se loflied bely Wie die God ís,
Hy wat groot dinge aan haar gedoen het – Lukas 1:49-50.
Geloof sluit nie net ‘n persoonlike oortuiging in nie, maar veral ‘n
oortuiging oor wié en hoé God is. Maria sê dat God ‘n God van
ontferming is – Vers 50. Die ontferming duur “van geslag tot geslag”.
Dit gaan voort deur die geskiedenis, ten spyte van mense wat dikwels
ongehoorsaam en weerbarstig is. Want só is God!
Sy wese is ontferming! Lees Psalm 103:8-10.

Ons kan beswaarlik die evangelie verstaan as ons hierdie ontferming
van God nie begryp nie. Die teoloog, Van Ruler, beskryf dit so:
“Daar is een ding wat ons diep en mateloos troos: dat daar êrens in
die wêreld werklik ‘n Hart is, en dat die heelal daarom nie koud en
stom is nie.” Dit is die ontferming, die hart van God!
Vir jou persoonlik!

Ernest