Ons bely dat Jesus gebore is uit die maagd Maria.
Wanneer Maria haar loflied sing beklemtoon sy God se ontferming,
God se trou en God se sorg. Lees weer Lukas 1:46-56. Maria het God
uit haar eie geloofservaring so leer ken. Vers 50 getuig dat God getrou
bly van geslag tot geslag. God bly getrou aan sy beloftes, verse 54-55.
God is nie vergeetagtig nie. God se trou laat Hom onthou. Dit sien ons
dwarsdeur die heilsgeskiedenis in die Bybel. Die duidelikste “bewys” is
die Kindjie Jesus wat gebore word. Deur die eeue het die mens gereeld
van God vergeet. Soos vandag nog, word God se Woord en beloftes
gereeld verwerp. Maar God het getrou gebly. Vandag nog is Hy getrou.

God se ontferming, trou en sorg gee ons moed om voort te gaan.
Die toekoms hang genadiglik nie van ons af nie. Kyk hoe maklik laat ons
mekaar, ons planeet en vir God in die steek. God is egter so anders.
Die “gans andere”. Die goeie werk wat Hy in ons begin het sal Hy enduit
voer en dit “voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” – Fil. 1:6.

Wanneer Maria in haar loflied sing oor die ontferming van God,
oor sy troue vervulling van sy beloftes, kom die vraag op: Wie is dit
eintlik oor wie Hy Hom ontferm en aan wie Hy sy beloftes vervul?
Dan die ontdekking... nie die vooraanstaandes en die verdienstelikes nie,
maar die geringes en die behoeftiges – verse 52-53. Geloof behoort aan
mense wat weet hoe volkome afhanklik hulle van God is, en dat hulle net
leef deur sy ontferming, trou en sorg.

Ons kan nie sonder God se gawes leef nie, nee, baie belangriker,
ons kan nie sonder God leef nie! Daar is niemand wat te gering en te
behoeftig is dat God nie vir hom of haar sal sorg nie. Daarvan getuig die
loflied van Maria. Sing en leef saam met haar lof aan God,
wat ook na óns in ons geringheid omsien!

Ernest