Jesus se lyding was plaasvervangend. In mý plek. 2 Kor. 5:19:
"Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus
die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge
nie toereken nie..." Dit is die evangelie!
Maria is die eerste persoon wie se naam in die Geloofsbelydenis
genoem word. Pilatus is die tweede. Pontius Pilatus. Dit stuit jou teen
die bors dat sy naam daar staan. Hy is die wrede wêreldse regter wat
die laaste sê gehad het oor Jesus se lewe of dood. En tóg hoort sy naam
in die belydenis. Soos die naam van Maria, wys dit op die historiese
werklikheid van Jesus se lewe en lyding. Pilatus was van 26 tot 36 n.C.
goeweneur van die provinsies Judea en Samaria in Palestina. Die Man
wat hy tot dood veroordeel het was Jesus, wat aan die kruis sou sterf.
Dit is nie 'n verhaal nie, maar historiese werklikheid. Jesus se
kruisdood,
sy lyding onder Pontius Pilatus, bevestig dat God dit ernstig met die
wêreld bedoel. Dood-ernstig. Ook met elkeen van ons, wat met óns
sonde die oorsaak is van Jesus se lyding en sterwe.
Ons kan bid: Dankie Here, dat U na die wêreld toe gekom het wat
bewoon word deur mense, mense soos Pontius Pilatus, mense soos ék...
Pilatus verteenwoordig ook die wêreld van die regspraak. Die wêreld
van skuld en onskuld. Pilatus was 'n regter van wie se beslissing die
"skuld" of "onskuld" van Jesus afgehang het. Pilatus vind geen skuld
by Jesus nie - Luk. 23:4. Tóg veroordeel hy die Onskuldige tot die dood.
Ironies probeer hy sy eie hande in "onskuld" was - Mat. 27:24.
Die geloofsbelydenis beklemtoon met die naam van Pilatus dat Jesus
onskuldig was! Selfs Pilatus moes dit toegee... Die evangelie lê juis
hierin:
Die onskuldige moes vir skuldiges sterf, sodat hierdie skuldiges voor God
onskuldig verklaar kon word!
"Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as
sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God
vrygespreek kan wees." - 2 Kor. 5:21. Ons kan bid:
Here, ek kan nie my hande in onskuld was nie. Dankie dat U daarvoor
betaal het en my skoon was... dankie Jesus, dat U my skuld dra en ek
U onskuld ontvang.
Ernest