“Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons
ook saam met Hom sal lewe.” – Rom. 6:8. Die evangelie maak ons
nie verstandeloos nie; dit gaan net ons verstand te bowe! Dit laat
ons net verwonderd staan in die uniekheid daarvan. Die rede:
dit is God se krag, tot redding vir elkeen wat glo! Jesus laat ons
eenvoudig verwonderd staan. En elkeen van ons is persoonlik
daarby inbegrepe. My dood-wees vir die sonde en my lewe vir God,
lê in ‘n sin “buite” my, en dit is daarom absoluut vas en seker, want,
dit is in Christus afgehandel. Daarom hang my verlossing nie af van
my goeie lewe nie. Lees dit weer. My verlossing hang nie af van my
goeie lewe nie! Al wat my te doen staan is om dit in opregte geloof
te aanvaar en daaruit te gaan lewe as verteenwoordiger van God in
hierdie wêreld – Genesis 1:27.
Ek is dood. Ek leef! As nuwe mens!

Iemand het aan die teoloog Herman Kohlbrugge gevra wanneer hy
tot bekering gekom het. Sy antwoord was: Ongeveer 33n.C. op Golgota.”
So is dit. Ons sekerheid van verlossing berus nie op ons gevoelens of
sentiment nie, maar op die daad van God, in Christus, op Golgota!
As ons nie hierop vertrou nie sal ons nooit sekerheid hê nie. Ons kan
nie op ons eie wankelrige geloof bou nie. Nog minder op ons gevoelens
en sentimente. Die waarheid en betekenis van Jesus se kruisdood
verander nooit nie. Hebreërs 7:27 sê dit duidelik: “Hy het immers eens
en vir altyd ‘n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.”

Ons hoef nie ‘n presiese dag en datum van bekering te hê nie.
As jy een het, wonderlik. Dit is egter nog belangriker dat jy jou vertroue
op Christus gestel het, en dat jy dit élke dag en élke datum kan doen!
Nog belangriker: Jy moet weet dat daar ‘n dag en datum deur God
bepaal is, lank voor jóú geboorte, waarop Hy die moontlikheid van
bekering vir alle mense gestel het, ook joune. Wat op Golgota gebeur het,
was die bepalende! Fokus daarop, en nie op jou datum nie.

Ons kan bid: Dankie Here dat ek, wat dood was, nou lewe. Here Jesus,
help my om dít wat nou dood is in my lewe, nié te laat herleef nie.
Help my om ook dít wat nou in my lééf, nie te dood nie.

Ernest