Jy weet dat jy uniek is.
Jy het dit al baie gehoor, gelees, en self beleef.
Jy het ook al geleer om binne die bepaalde vorm wat jy gegiet is, te leef.
Jy weet dat jy met jou spesifieke persoonlikheid, talente en lewenservaring,
sekere dinge goed kan doen, en ander nie.
En juis daar lê die probleem.
Jy betrap jouself dikwels dat jy wens dat jy soos iemand anders kon wees.
Dat jy goed kan doen wat hy of sy goed kan doen.
Dan sou jy dalk meer bewonder word, of erkenning kry.
Gerespekteer en waardeer word.
Die volk het die opdrag gekry om die tabernakel te bou.
En dan lees ons in Eksodus 35 en 36 hoe elkeen met sy unieke talente na vore kom.
Elkeen gee eenvoudig hom of haarself.
En dit was genoeg!
God rus ons toe met sy Gees, sodat ons in ons alledaagse lewe werklik kan leéf!
Besluit vandag om te wees wie jý ís.
Gee wat jy het, en doen wat jy kan.
Dit is al wat God vra, en dit is meer as genoeg in sy hand.
Die vraag is nie hoe jy anders kan wees nie.
Die vraag is hoe jy méér kan wees.
Hoe jy, soos jy is en waar jy is, kan wees wat God met jou bedoel.
Waardeer weer voor die Here wie jý is!
Hy het jou geskep met sý doel voor oë.
Ernest