Wanneer jy vol twyfel is, wanneer die Satan jou wil fokus op
sondeskuld, wanneer jou eie hart jou veroordeel, wanneer jou
omstandighede jou bedreig en jou onder wil kry: Kyk na Jesus!
Hou jou oog op Hom! Die Begin en die Voleinder van die geloof
– Heb. 12:2. By Hom is verlossing en veiligheid.
Christus het nie na die wêreld gekom om ‘n ideaal of stelsel van
idees te verkondig nie. Hy het gekom om vir die sondige wêreld
te sterf, tot redding. Hy was nie bloot ‘n groot humanis met ‘n
hoogstaande morele lewe nie. Hy is die Gekruisigde. Ons kan en
moet nooit die kruis van Jesus uit die oog verloor nie.
Paulus som sy boodskap aan die Korintiërs so op: “Ek het my
voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor
Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde”
– 1 Kor. 2:2.
Verder skryf hy in 1 Kor. 1:18 dat die boodskap van die kruis van
Jesus na onsin sal klink vir dié wat verlore gaan, maar dat dit die
krag van God is vir ons wat gered word.
Die boodskap van die kruis is inderdaad vir baie mense onsinnig.
Die boodskap dat ons volkome van God afhanklik is vir ons redding,
druis in teen die mens se sondige selfstandigheid. Mense wil nie,
of kan nie aanvaar dat die wêreld ‘n Verlosser nodig het nie.
Selfbeskikking. Vir hulle is die kruis ‘n kruk wat mank mense kan
gebruik, as hulle wil. Dit hoort egter nie by “onafhanklike” mense
wat dink hulle kan vir hulleself sorg nie. ‘n Mens kan Christus nie
aanvaar sonder om ook die kruis te aanvaar nie.
Buitendien is almal mank aan die sonde. Ek is mank. Ons is almal
sonde-kreupel.
“Die boodskap van die kruis van Christus is wél onsin vir die wat
verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.”
– 1 Kor. 2:2. Daarom bely ons pertinent dat Jesus gekruisig is.
Ernest