Wat op Golgota gebeur het lyk soos ‘n oorwinning vir die Bose.
Kom alles nou hier tot ‘n einde? Dit lyk aanvanklik so. Maar juis
uit die skynbare neerlaag kom die oorwinning.
Dit is ewige triomf oor die Bose! Deur die optrede van Jesus het
“die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel” geval! – Lukas 1:18.
Dit is veral duidelik met Jesus se opstanding uit die dood.
Maar reeds op die punt van die kruis weet ons al:
God kan uit selfs die heel donkerste situasie, ja, ook uit die
dood en die graf, nuwe lewe en moontlikhede en hoop skenk!
Dalk voel jy dat die kruis wat jy tans moet dra ondraaglik swaar
op jou lê. Weet dan dat God dit alles kan verander en volgens
sy wysheid sál verander. Hou vas aan die kruis van Jesus,
waar Hy jou donkerste hel klaar kom dra het! Hy sal ook jou
hart verander.
Hy sal jou geloof versterk sodat jy jou situasie kan dra.
Hou dit deurgaans in jou gedagtes: Die kruis van Jesus is die
teken van die Bose se ondergang.
Die Bose is finaal oorwin en verslaan. Lééf in die oorwinning!
Ernest