Die kruisdood van Jesus beskryf die diepte van die lyding wat Hy
moes deurmaak. Ons begryp die aspek van Christus se liggaamlike
lyding die beste, maar ons besef nie hoe groot die vloek van die
kruisdood is nie. Dit was die wreedste denkbare metode van
Romeinse teregstelling. Ondraaglike lyding vir die menslike liggaam.
‘n Uitgerekte aaklige dood deur spier-spasmas en versmoring,
bloedverlies en skok, weens pyn. Dit word dikwels beklemtoon
hoe Jesus liggaamlik gely het.

Behalwe die liggaamlike lyding was daar nog die skande wat aan
dié vorm van dood gekleef het. Iemand wat gekruisig is, is op so
‘n manier in die openbaar vertoon dat almal wat hom sien, hom
kon spot. Daarmee is hy as misdadiger gebrandmerk. Sy bestaan
was ongewens en van hom moet ontslae geraak word op die
wrede metode van kruisiging.

Maar Jesus se lyding gaan dieper. Baie dieper. Sy kruisdood is
‘n simbool van die vloek van God se oordeel, wat Hom tref.
Vanweë ons sonde... Paulus het Jesus se lyding so verstaan en
beskryf: Jesus sterf onder die vloek van God!
Daarom haal hy in Galasiërs die woorde uit Deut. 21:23 aan
wat dit duidelik stel dat elkeen wat opgehang word aan ‘n kruis,
vervloek is...

Die merkwaardigste van alles is dat Jesus al hierdie lyding aanvaar.
Tydens sy verhoor swyg hy merendeels. Hy beaam die vloek van God.
Hy weet dat die sonde van die wêreld vloekwaardig en doemwaardig is.
Iemand moet hiervoor sterf om hierdie skuld te dra.
Alles hang af van hoe jy die kruis sien.

“Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die
wysheid van mense” – 1 Kor. 1:25. Hoe sien jy die kruis?
Die kruis-boodskap is een van liefde, een van verlossing, een van
God se krag! Ons kan bid: Jesus, open my oë sodat ek kan sien...
dieper en dieper kan sien... en waarlik glo Wie U is,
en wat U doen.

Ernest