Die Geloofsbelydenis waarmee ons ons geloof dikwels bely,
wil nie ‘n greintjie twyfel laat nie. Jesus se dood was ‘n
werklike fisieke dood.

Daarom word bely dat Jesus gekruisig is, gesterf het,
“en begrawe is”. Só ernstig het God die sondige wêreld
opgeneem dat Hy sy Seun daarvoor in die graf laat neerlê
het. Maar, juis deur die graf heen oorwin Jesus die dood.
Anders sou ons nooit weet of Hy waarlik dood was nie. Hy was!
Hy moes dood wees, om met die opstanding juis die dood te
oorwin.

Jesus se graf maak ook ons graf anders. Ook ons graf verloor
die afgryslikheid van die dood. By die oop graf onthou ons die
leë graf van Jesus! Jesus het gesê:
“... elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit
sterwe nie” – Joh. 11:25-26.

Ons kan bid: Here Jesus, die eensaamste plek wat daar is,
is die graf. Dankie dat U ook dit omskep het in ‘n deurgang
na die ewige gemeenskap met U.
Dankie Here dat dit U hande is wat die sleutels van die dood
en die doderyk vashou - (Openbaring 1:18)

Daarom kon Paulus bely: “... om te lewe is vir my Christus,
en om te sterwe, is vir my wins” – Fil. 1:21.
Dit het vandag betekenis vir my lewe! Nuwe lewe in Hom!

Ernest