Die engele het vir die vroue by die graf van Jesus gesê:
“Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie.
Hy is uit die dood opgewek.” – Lukas 24:5-6. Amper verbaas asof
hulle wou sê: Hy is mos nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek.
Dit glo ons en daarvan getuig ons die hele lewe lank.

Na die Bolsjewistiese rewolusie in Rusland het een van die
kommunistiese party se leiers ‘n dorp besoek om die mense te
oortuig van die deugde van die kommunisme. Nadat die leier
byna twee ure lank gepraat het, het hy die plaaslike Christelike
priester aangesê om binne vyf minute te sê wat hy wil sê.
Die plaaslike priester het gesê dit is heeltemal te veel tyd vir
wat hy wil sê. Hy het net vyf sekondes nodig. Hy het op die
verhoog geklim, en die opstandings-groet gegee:
“Die Here het opgestaan!” Die skare het uit een mond entoesiasties
teruggeantwoord dat jy hulle ver kon hoor: “Hy het waarlik opgestaan!”
So het die vroeë Christene mekaar gegroet.
Vandag nog doen gemeentes dit gereeld. Die Here leef!

Die boodskap van die evangelie is voorwaar uniek en kan nie uitgeblus
word nie. Jesus se graf is leeg. Hy leef! Ons kan bid: Here Jesus,
daar was al so baie wonderlike mense op hierdie aarde, soveel groot
geeste en name. Hulle beendere lê in hulle grafte. Maar U Here,
sit aan die regterhand van God die Vader.
U leef en regeer tot in ewigheid. Ons eer U, ons Here en ons God.

Ernest