Met Jesus se opstanding is die dood oorwin! Die dood is vernietig,
die oorwinning is behaal – 1 Kor. 15:54. Ons moet dit net in geloof
aanvaar, en ons moet voluit vir die Here leef omdat dit ‘n werklikheid is.
Die opstanding is God se amen op Jesus se offer en die mense se halleluja
op hul verlossing uit die ewige dood. Ons kyk verby die sonde, die Bose,
en die dood, en sien die leë graf van Jesus wat alles verander het!
Dit is wat nou vir ons tel!
Ons leef nou in ‘n tussenperiode. Die oue het verbygegaan, alles het nuut
geword. Die Bose en die sonde en die dood is oorwin. Ons moet met dit
rekening hou, maar ons kan ophou om dit te vrees. Ook wat ons betref,
het Jesus deur sy opstanding die nietigheid en verganklikheid oorwin.
Ons gaan nie meer tot niet nie, maar leef nou vir ewig by God.
Psalm 90 sê oor die mens dat ons maar ‘n stoffie is, ‘n grassie, ‘n gedagtetjie.
‘n Paar sekondes in die lig van die ewigheid. Maar nou het ons in Jesus se
opstanding ontdek: Ons is ‘n stoffie, maar God se stoffie. ‘n Grassie, maar
God se grassie. ‘n Gedagtetjie, maar God se gedagte! Ons wat in Christus
sterf sal bly voortleef by God. Daarom kan ons Psalm 90 vers 14 bid:
Skenk ons elke dag U liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig
en bly wees.
Karl Barth het dit min of meer so beskryf: Die oorlog is verby,
die oorwinning is behaal, maar hier en daar is daar troepe wat nog skiet
omdat hulle nie gehoor het van die oorwinning nie. Die skaakspel is
gespeel en die Bose is skaakmat. Al probeer die Bose nog ‘n paar skuiwe.
Die horlosie het afgeloop, alhoewel die pendule nog net ‘n paar keer
heen en weer kan swaai. Dit is die tussenperiode. Die Bose kan op die
lange duur geen onheil meer teen ons loods nie. Die Bose tree wel nog
op asof die spel nie beslis is nie, asof die oorlog nie gewen is nie.
Daarom moet ons met die Bose rekening hou, maar wesentlik vrees
ons nie meer die Bose nie.
Ons kan bid: Here Jesus, so dikwels veg ek nog die oorlog, speel ek
nog die spel, hou ek die pendule dop... Here Jesus, open my oë vir
die leë graf. Amen! Halleluja! Ek leef vir ewig by U.
Ernest