Dikwels dink ons as ons net oor hierdie of daardie hindernis is,
sal ons gelukkig wees.
Maar dan is daar net ‘n volgende hindernis in die lewe.
Uiteindelik besef ons dat hindernisse deel van die lewe bly.
Daar is dus nie ‘n beter tyd as juis noú, om gelukkig te wil wees nie.
Dit is ‘n wilsbesluit!
Kies vir vreugde, ten spyte van!

Geluk word deur omstandighede en gebeure bepaal.
Vreugde nie.
Galasiërs 5:22 sê vreugde is vrug van die Heilige Gees.
Dit kom diep uit jou binneste.
God maak dit duidelik in Deuteronomium 30:19 dat ons die lewe moet kies.
En dit is die lewe wat Hy gee, ware lewe wat vreugde gee!

Jesus het ook in Johannes 10:10 gesê dat Hy ons die lewe wil gee,
en dit in oorvloed.
Romeine 15:13 sê verder:
“Mag God, die bron van julle hoop,
julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul…”

Ons kan vreugde hê, te midde van swaarkry en beproewing.
God hou ons toekoms in sy hand.
Hy raak nie onseker en paniekerig soos ons nie.
Hy bly in beheer.
Dit is vir ons genoeg om daarin ons lewe en vreugde te vind.
Moenie dat jou verlede jou toekoms vernietig nie.
Kies lewe. Kies vreugde.
Wanneer jy jou ook bly bekommer oor môre, leef jy verby die lewe van vandag,
en jy mis die Here en sy seën in vandag.

Kies lewe! Kies vreugde!
Kies noú daarvoor!

Ernest