Hoe kan ons oor die krag in Jesus se opstanding praat.
Dit is en sal die grootste oorwinning wees in alle tye.
Dit is God se krag aan die werk. Dit is onmeetlik!
Daar is wonderlike implikasies daarin vir ons wat steeds
bly voortleef op aarde. Jesus se opstanding het vir ons die
voordeel dat Hy nie meer, soos in sy aardse gestalte, aan tyd
en plek gebonde is nie. Hy is nou altyd en oral by ons!

Jesus se opstanding uit die dood het ook vir ons die verdere
unieke betekenis dat ook óns, net soos Hy, uit die dood kan opstaan,
en wel in die breedste sin van die woord. Ek kan nou reeds uit my
sondige bestaan opstaan in Jesus se krag in my. Ek sal ook uit die
graf opstaan. Ek kan ook nou reeds teen alle vorme van die sonde
en die dood in die samelewing veg. Want die opstanding van Jesus
is die triomf oor die dood in al sy vorme.

Die implikasie daarvan is dat ons daagliks, op grond van Jesus se
opstanding, ook uit die dood en die sonde en verderf kán opstaan!
Dit is wat die Bybel ook “heiligmaking” noem. Calvyn praat van
“voortdurende of daaglikse bekering”. Daaglikse bekering,
of heiligmaking, is gegrond op die hartklop van die evangelie:
naamlik dat Jesus met sy opstanding oor die dood en graf
getriomfeer het.

Wat is die wesentlike aard van heiligmaking? Dit is om telkens,
wanneer ons in ons lewe die bewyse van sonde en die dood sien,
dit te beveg met alles in ons, dit te besweer, en weg te gee in die
dood van Jesus. Heiligmaking is om regtig in die krag van Jesus
Christus se opstanding te gló. Dit is dieselfde krag wat Jesus uit
die dood opgewek het, wat God ook uitoefen in ons wat glo!
– Ef. 1:19-20.

Moet tog nie dat die opstanding vir jou tevergeefs plaasgevind
het nie. Nooit nie. Dit is die mees tragiese wat met ons kan gebeur.

Ernest