‘n Joernalis het by geleentheid vir die Duitse teoloog Dorothee Sölle
gevra: “Glo u werklik dat mense kan verander?” Dit was na aanleiding
van Christene se uitspraak dat Christus “alles nuut maak”. Die joernalis
het gewone mense bedoel, mense soos ons. Mense wat sondig, dikwels
onverbiddelik is, en onversetlik op ons gebaande weë leef soos ons dit
self kies. Kan sulke mense, mense soos ons, regtig verander? Kan ons
ons eie sondes waaraan ons so krampagtig vashou, aflê?

Ja ons kan! Ons kan totaal verander. Die krag waarmee God vir Christus
uit die dood opgewek het, kán ook sondige mense totaal verander!
God doen dit in Christus en deur die Heilige Gees in jou. God se krag
verander ons! Paulus praat van God se krag en “hoe geweldig groot
sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.” – Ef.1:19.
In Efesiërs 5:8 gebruik Paulus ‘n baie goeie beeld om dit te beklemtoon:
“Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou, in die Here, is julle lig.
Leef dan as mense van die lig.” – Ef. 5:8.
Ek kán verander. Jy kán verander. Die persoon vir wie jy bid kán verander.
Die sonde wat ons geloofslewe so kniehalter kán afgelê word.

Wat was Dorothee Sölle se antwoord aan die joernalis?
Haar antwoord was: “Ja! Mense kán verander. As ons hieraan twyfel,
twyfel ons aan die krag van God wat Christus uit die graf opgewek het!
En as ons dít nie glo nie, is ons die opperste ateïste...”
Ons is nie ateïste nie, maar Christene. Ons Here hét opgestaan uit die
dood! Sy opstanding is sy oorwinning oor die dood. Ons kan en moet
daagliks leef uit Christus se triomf oor die dood.

Oor verandering van ons lewe skryf Paulus ook oor homself en sê:
“Ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds
Syne gemaak het... Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na
wat voor is... sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my
geroep het in Christus Jesus.” – Fil. 3:12-14.

Ons kan bid: Dankie Here dat U die dood oorwin het, en ons nou nuwe
mense kom maak. Dankie dat U opwekking uit die graf, ons nou opgewek
maak. Dankie dat U opstanding ons laat opstaan, en ons opstandig maak
teen alle vorme van sonde en die dood. Dankie dat U ons hart en gedagtes
tot oorlopens vol maak van vreugde in U.

Ernest