Jesus se hemelvaart waarborg aan ons baie belangrike waarhede.
Die eerste waarborg is dat Hy daarvoor instaan dat ons, indien ons
voor die wederkoms sterf, veilig by Hom sal wees.
Hoe hierdie tussen-toestand tussen ons sterwe en liggaamlike opstanding
presies sal wees, weet ons nie. Ons hoef dit ook nie te weet nie.
Die belangrike is: Ons sal by Jesus wees! “Terwyl ons dan nou ‘n groot
Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun
van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.” – Hebreërs 4:14.
Om te weet dat Jesus in die hemel vir ons intree en dat ons ná ons dood
ook veilig by Hom sal wees, is ‘n geloof waaraan ons te alle tye kan vashou.
Die tweede waarborg van die hemelvaart van Jesus Christus is dat dieselfde
Jesus weer sal kom! Twee engele het dit by die hemelvaart van Jesus bevestig:
“Hierdie Jesus... sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien
opgaan het” – Hand. 1:11. Die hemelvaart vul ons lewe en ons dood nou reeds
met die grootste sin denkbaar. Maar die beste lê nog voor! Jesus se wederkoms!
Die hemelvaart gee ons dus bo alles hoop. Ons is na ‘n bestemming op pad,
by God. Wat ookal elke dag met ons gebeur, is nie toeval nie. Alles loop uit op
die dag wanneer Jesus weer kom. Kyk op en leef vorentoe!
Die derde waarborg van die hemelvaart is die feit dat ons ook eenmaal uit die
graf sal opstaan. Ons weet weereens nie presies hoe nie, maar die wonderlike is
die feit daarvan: “So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai
word is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; wat gesaai word, is
gering en word in heerlikheid opgewek, wat gesaai word, is swak en word in
krag opgewek” – 1 Kor. 15:42-43. Presies hoe?
Dit is God se werk vir Wie niks onmoonlik is nie. Vir die Skepper van alles uit
niks is dit baie maklik. 1 Kor. 15:52 sê dit sal in ‘n oomblik, in ‘n oogknip gebeur.
Ons kan bid: Here Jesus, U het voor my uit gegaan. Oortuig my dat ek sonder
vrees kan volg. Tel U my kop op, om na U op te kyk, en my voete, om U
onvoorwaardelik te volg. Rig my hart op die klanke van U wederkoms in my
gemoed. Maak my oë oop vir die feit dat U God is en dit alles doen,
soos dit U wil is.
Ernest