Ons bely in ons Geloofsbelydenis, die 12 Artikels in die vyfde artikel dat Jesus
opgevaar het na die hemel “en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader…”

Tot op hierdie punt in die geloofsbelydenis word elke keer verwys na wat Jesus reeds
gedoen het: Dat Hy ontvang is, gebore is, gely het, begrawe is, ter helle neergedaal het,
opgestaan het, opgevaar het... en dan, skielik, is ons in die teenwoordige tyd!
“Jesus Christus wat sit aan die regterhand van God...” dit geld vir vandag, hier en nou.
Dit is waar Jesus is! Net voordat hy onder die klippe sterf sien Stefanus ook die hemel
geopen en Jesus aan die regterhand van God – Hand. 7:55. Wat beteken dit?
Dit beteken Hy regeer nou! Hy staan ook vir ons in.

Net na die Tweede Wêreldoorlog het Karl Barth ‘n reeks lesings gehou.
Dit was ‘n somber tyd. Hierdie lesings het gegaan oor die Apostoliese Geloofsbelydenis,
die 12 Artikels. In hierdie tyd het Karl Barth beklemtoon dat Christus nóú aan die
regterhand van God sit, terwyl hulle die oorlog-puin opruim. Barth sê met die ander
artikels was dit soos ‘n berg wat ons moet uitklim, maar hiér kom ons op die kruin.
En ons het asemrowende uitsigte! Die eerste en die laaste ding wat ons kan sê en moet
sê oor ons lewe en oor die wêreld, is dat Christus nóú aan die regterhand van God sit,
en heers!

Dat Jesus regeer is natuurlik nie altyd met die menslike oog sigbaar nie. Daarom voel
ons dikwels eensaam en verlate. En tog leef ons in die tyd van hoop! Want Jesus regeer!
Die uitdrukking “aan die regterhand van God” is om Jesus se heersers-posisie te
beklemtoon. Daarom gebruik Paulus ook hierdie beeldende taal as hy in Efesiërs 1:19-20
oor Jesus se magsposisie sê: “Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy (God)
uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy
regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy...”

Jesus regeer nóú, in elke oomblik waarin jy leef, aan die regterhand van God.
Hierdie Jesus, ons Verlosser, het alle mag in die hemel en op aarde. Hy is die Here oor
die geskiedenis, en die wêreld, en die kerk, ...en oor my persoonlik.
Wat anders kan jou meer troos as dit? Niks!

Ons kan bid: Here Jesus, as ek in die put is, bring my op die kruin waar U regeer.
Help my om te onthou, as ek vandag met die Bose handgemeen moet raak:
U heers en U sit in daardie heersersposisie aan die regterhand van God, ons Vader!

Ernest