Hoewel Jesus in die magsposisie en heerser-posisie sit aan die regterhand
van God, “…die Almagtige Vader”, soos ons bely, is dit ‘n heerskappy van
geduld en liefde.
Daar is by Jesus verdraagsaamheid. Hy pleit vir ons. Hy tree vir ons in.
Ons leef nog in die tyd van genade. Ons kan nog kies om onder hierdie heerskappy
te leef. Ons moet egter nie dink hierdie in ‘n kragtelose heerskappy nie. Jesus kies
om te regeer as Gekruisigde wat verhoog is. Sy heerskappy is met deernis. Hy wil
mense red! Die Leeu uit die stam van Juda, is ook die Lam wat vir ons geslag is.
Hy werk sag met ons. Hy laat deur sy Gees die Woord op aarde sy loop neem.
Hy wil dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
Jesus se posisie aan die regterhand van God verteenwoordig sy koninklike werk,
sy profetiese werk, en sy priesterlike werk. Paulus beskryf dit treffend in
Rom. 8:33-34: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek
hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit:
Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons”.
Hy pleit vir ons!
Ons weet, die einde is geen lugkasteel nie. Inteendeel, dit vul ons met
onuitspreeklike blydskap en hoop. Die mens is nie in beheer nie. Dan sou die
uiteinde chaos wees. Ten spyte van ons tegnologie en prestasies, bly die
menslike utopie ‘n droom, ‘n lugkasteel. Ons kan almal daarvan getuig.
Die Bose is ook nie in beheer nie. Hy is reeds oorwin en ons is van die chaos
van die Bose gered! Goddank. Ons leef in die oorwinning van Jesus Christus oor
die Bose en die dood. Die noodlot is ook nie in beheer nie. Die determinisme
aanvaar die siening dat niks of niemand iets aan ons lot kan doen nie. Dit sou
‘n bestaan van sinloosheid en pessimisme wees.
Ons weet: God regeer die geskiedenis deur Jesus Christus aan sy regterhand.
Hy is die Almagtige Vader! Skepper van hemel en aarde. Ons Skepper God.
Jesus, as Middelaar, voer die geskiedenis na die heerlike eindpunt waar God
“alles vir alles” sal wees – 1 Kor. 15:28.
Ons leef met onuitspreeklike blydskap en hoop!
Ons kan bid: Here Jesus dankie dat ons in U hand is,
waar ons met U Goddelike liefde gekoester word.
U sterk hand is sag op ons, en rondom ons.
Ek pleit by U: Pleit vir my by die Vader.
Ernest