Jesus het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God.
Dan volg artikel 6 van ons Geloofsbelydenis wat sê “... van waar Hy sal
kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.”
Hiermee bely ons die sekerheid van die wederkoms van Jesus Christus.
Oor die wederkoms van Jesus is die Bybel duidelik. Met die uitsondering
van vier boeke, verwys al die boeke van die Nuwe Testament daarna.
Een uit elke dertig verse praat daaroor. In die 216 hoofstukke van die
Nuwe Testament word daar 318 keer van Jesus se tweede koms gepraat.
Dwarsdeur klink Jesus se belofte op: “Kyk, Ek kom gou!” Wie luister hoor
dit in die gerugte en krisisse van oorloë, die hongersnode en aardbewings,
die pessiektes en liefdeloosheid in die wêreld... Matteus 24:3-14. Jesus kom!
Hy is komende! Hy is op pad! Kan jy met verwagting en opgewondenheid
uitroep: “Amen! Kom, Here Jesus!” – Openbaring 22:20.
Die vroeë Christelike kerk het Jesus baie gou verwag. Daar het soveel
vrae by gelowiges ontstaan oor Jesus “talm” om te kom, dat Paulus daaroor
in 1 Tessalonisense 4:15-18 skryf: “Ons wat bly lewe tot met die wederkoms
van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer
die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God
weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal die wat in
Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe,
saam met hulle weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal
ons altyd by die Here wees. Troos mekaar dan met hierdie woorde.”
Die vroeë Christene was nie verkeerd om ‘n lewende wederkoms verwagting
te hê nie. Jesus kón in hulle leeftyd gekom het. Jesus kán in ons leeftyd kom.
Sy koms is altyd naby. Hy is voortdurend komende. Daarom dat Paulus in
1 Tessalonisense 5:2 sê ons weet mos “alte goed dat die dag van die Here
onverwags kom soos ‘n dief in die nag.” Paulus maak geen tyds-aankondiging
oor die wederkoms nie, maar beklemtoon die onvoorspelbaarheid daarvan.
Só sal mense, terwyl hulle nog sê: “Alles is rustig en veilig”, onverhoeds betrap
word – 1 Tess. 5:3. Ons leef in die werklikheid van die wederkoms van die Here.
Dit roep ons ook op tot ‘n dringendheid, om daagliks toegewy aan Hom te leef
en sy evangelie boodskap uit te dra na die wêreld in nood.
Daarom moet ons nugter en wakker bly – vers 6.
Ons kan bid: Ja, kom Here Jesus! Of U vandag kom, of môre, hier is my lewe,
my alles lê ek voor U neer. Maak my wakker, en nugter vir U koms.
Dankie Here dat U komende is! Elke dag.
Ernest