Hoe kan ons gereed leef vir die wederkoms van Jesus?
Ons kan op een van twee maniere verkeerd dink oor die wederkoms.
Die eerste is dat jy so uitsien daarna dat jy jou aardse bestaan uit die
oog verloor en selfs begin minag. Dan was jy jou hande in onskuld oor
die “bose wêreld”, en raak jy so wêreldvreemd dat jy uiteindelik niks
vir die koninkryk van God in hierdie wêreld beteken nie.
Die tweede manier om verkeerd te dink oor die wederkoms van Jesus,
is dat jy toelaat dat hierdie aarde, en alles wat daarmee saamgaan,
só belangrik vir jou word dat jy die nuwe aarde en hemel uit die oog
verloor. Dan vergeet jy dat die aardse bestaan van verbygaande aard is,
en leef asof dit volkome en finaal is.
Die vraag is: Hoe kan ons koers hou en gereed leef?
Ons doen dit die beste deur ons roeping om in diens van die Here te leef.
In diens! Ons kan nie terugsit en net “wag” nie. Dan verstaan ons nie ons
roeping van die Here nie. In die gelykenis van die goue muntstukke gee
die man wat weggaan (wat Jesus verteenwoordig) aan sy slawe
(verteenwoordigend van ons, sy dissipels) goue muntstukke om mee te
woeker – Lukas 19:11-27. Hulle moet rekenskap gee wanneer die man
– Jesus – terugkom.
Wat is dus die geheim van so ‘n lewenshouding? Op dié manier bly Jesus
se dissipels – óns – besig met die aarde, besig met die uitbreiding van die
koninkryk van God! En, hulle dink óók steeds aan die Een wat kom!
Dan leef ons in vooruitsig van Jesus se koms en ons lééf ons lewende
roeping vir Hom en sy koninkryk!
Ons leef dan met lewende hoop. Dit is ‘n gesonde en gebalanseerde
wederkoms verwagting. Dit beteken jy dink oor en verwag die toekomstige
wêreld, en jy beteken ook in die Here se Naam en in sy krag, so baie vir die
teenswoordige wêreld. Jy leef inderdaad as sy verteenwoordiger, Sy dissipel.
Ons kan bid: Here, help my om nie die dae van my lewe te mors met
sinnelose dinge nie. Help my om waarlik U te verteenwoordig in hierdie
wêreld. Help my om te verlang om by U te wees, maar ook om nou,
in hierdie wêreld, doelbewus vir U te lééf.
Ernest