Martin Luther het gesê: “As ek weet dat Jesus môre kom, sal ek vandag nog
‘n boompie plant.” So laat ‘n lewende geloof in die wederkoms jou optree.
Dit hou nie heeldag jou kop in die wolke nie, maar laat jou ook bewustelik
jou roeping op aarde uitleef. Jou wederkoms verwagting stuur jou terug na
die aarde, na jou leefwêreld met sy verantwoordelikhede en geleenthede.
Jy raak nie onbruikbaar ten opsigte van God se koninkryk op aarde nie.
Ons lééf juis voor die aangesig van die Here hier op aarde. Petrus stel dit so:
“Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor
beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe”
– 2 Pet. 3:14.

Prakties beteken dit dat jou uitsien na die wederkoms jou ‘n beter mens in
hierdie wêreld maak! Jy sal die geleentheid om hier God se koninkryk te bou
aangryp. Juis hier op aarde, te midde van wanhoop en pessimisme, sal jy die
Bybel se boodskap van hoop verkondig en uitleef.
Plant vandag jou boom met die oog op die toekoms!

Jesus se tweede koms hou ook vir ons die diepste troos in.
Die eerste rede is dat ons Hom wat weer kom, kén! – Handelinge 1:11.
Dit gee ons nie rede tot vrees nie, maar tot vreugde! Jy kén mos die Een
wat kom! Ons het niks te vrees nie. Dis ons Broer. Jesus.

Die tweede rede tot troos is dat die Een wat kom onkeerbaar is!
Hy kom gewis. Ons is seker daarvan. Fil. 4:5: “Die Here is naby.”
Die “dag van die Here” is naby. Jesus is immers die Alfa en Omega,
wat ís en wat wás en wat kóm, die Almagtige. Hy is die Eerste en die Laaste,
die Lewende – Openbaring 1:8, 17-18. Die Een wat gekom hét, is die Een
wat wéér kom! Daar is ‘n groot sekerheid oor die Here wat kom. Dit gee
ons sekerheid in ons lewe! Troos in die moeilikste omstandighede.

Die derde element van troos in Jesus se koms is dat die beste nog moet kom!
God se redding van die wêreld vind as’t ware in fases plaas. Elke keer maak
God ‘n enorme skuif vorentoe, na die einde toe, en na die volle heerlikheid
tot in ewigheid toe. Dink maar aan die roeping van Abraham, die vorming
van die volk Israel, die koms van Christus, die kruis, en opstanding, en
hemelvaart, die uitstorting van die Heilige Gees, en nou die wederkoms
op hande! Dan sal God “alles vir alles” wees – 1 Kor. 15:28. Dié heerlikheid
kan ons ons nou nog nie voorstel nie. Maar, dit dra ons elke dag,
in gelukkige tye en in die moeilikste omstandighede.

Ons kan bid: Here, help my om my prioriteite reg te kry met perspektief
op U koms. Laat my met my vingers in die grond van hierdie aarde werk,
met my oog op die wolke, want U kom! Dankie dat ook vandag ‘n reis is,
na U koms toe, ‘n deel op pad na U heerlikheid. Dankie dat die beste
van die beste aan’t kom is, en my vandag met blydskap laat lewe.

Ernest