Hoe lyk ons lewe tussen Jesus se eerste en tweede koms?
Hoe lyk ons lewe van hoop? Watter vorm neem ons verwagting aan?
Paulus gee ons vier riglyne oor hoe ons lewe van hoop en verwagting op Jesus
se tweede koms lyk:
Eerstens is daar blydskap. Filippense 4:4: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal:
Wees bly!” Hierdie blydskap “in die Here” is nie afhanklik van mense se sentimente
of emosies nie. Dit is nie afhanklik van nukke en grille nie. Dit is nie afhanklik van
omstandighede nie. Dit verloor nie sy diepte nie, al gaan ek deur donker dieptes.
Dit word nie afgetakel deur siekte nie. Hierdie blydskap word gevind “in die Here”.
In sy nabyheid. Dit kom nie vanself nie. Jy kry dit by die Here. Daarom sê Paulus:
Wees altyd bly, want “die Here is naby” – Fil. 4:5.
In die tweede plek is hierdie hoop en verwagting inskiklik. Ons leef in afwagting op
die Here se koms, inskiklik teenoor alle mense – Fil. 4:5. Dit kan ook vertaal word
met vriendelikheid. Die Griekse woord wat Paulus gebruik dui op ‘n sagtheid van
hart... gebrokenheid voor die Here. Dit is die lewenshouding van iemand wat weet
dat jy alleen uit die genade van die Here kan leef. Daarom láát jy ook leef. Leef en
laat leef! Jy leef oop en bloot voor die Here. Jy is afhanklik van en sensitief vir sy
nabyheid. Luther het gesê ons lewenstyl van hoop lyk so: Om bly te wees voor die
aangesig van God en vriendelik voor mense. Leef as ‘n teken daarvan dat jy die
Here verwag!
Die derde kenmerk van Christelike hoop en verwagting is onbesorgdheid. Fil. 4:6:
“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed
en smeking en met danksegging aan God bekend.” Kan mens glad nie besorgd
leef nie? Nié in die sin van onverskillig en onverantwoordelik nie... maar nie
angstig nie. Om onbesorgd te wees is om te weet die Here sorg in die sorge van
menswees. Let op dat Fil. 4:6 sê dat gebed die wyse is waarop ons ons begeertes,
nood en behoeftes aan die Here bekend maak, want die Here is naby! Ons doen
dit met smeking, maar ook met danksegging vir God se omvattende sorg.
God is by ons en dra ons.
Die vierde kenmerk van Christelike hoop en verwagting met die oog op Jesus se
tweede koms is vrede. Vrede! Fil. 4:7 verseker ons dat die vrede van God oor ons
harte en gedagtes “sal wag hou.” Hierdie vrede kom van God Self na ons toe.
Hy gee dit. Dit is vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dit word nie deur mense
geskep, gehandhaaf of gewaarborg nie. Dit is groter as enige iets wat ons kan vermag.
Dit gaan immers “alle verstand te bowe.” Dit is meer as wat ons ooit kan verwag.
God is magtig om “oneindig meer te doen as wat ons bid of dink” – Ef. 3:20.
So lyk ons lewende hoop en verwagting op Jesus se tweede koms:
Blydskap, inskiklikheid, onbesorgdheid, vrede. Sien mense dit in ons lewe?
Ervaar ons dit deur die Gees wat in ons woon? Ervaar mense dit by jou as hulle jou
optrede en denkpatrone sien, en jou woorde hoor? Beleef hulle die “komende” Here
in jou lewe? Dit lê jou hoop bloot... of jou wanhoop...
Ons kan bid: Here, ek is bly U is so naby my. Laat my inskiklik-vriendelik leef met mense,
want U is naby. Laat hulle U ervaar, deur my. Ek werp my bekommernisse op U, want U
is hier. U sorg vir my. Skenk my U vrede, en maak my ‘n vredemaker, in U Naam.
U is só naby my.
Ernest