Ons kan maklik onsself probeer verontskuldig deur te reken daar is baie
ander mens wat baie slegter dinge as ons gedoen het. Dink maar aan die
Hitlers, en die Nero’s van die wêreld. 2 Kor. 5:10 sê egter duidelik dat
“almal” voor die regterstoel van Christus verskyn. Die teks sonder nie
sekere soorte mense uit nie. Dit praat van ons... almal! Paulus skryf juis
aan ‘n gemeente van Jesus Christus en sê “almal”. Natuurlik is God se
oordeel oor geredde en ongeredde mense verskillend. Maar ék, word
ook geoordeel. Dit moet my laat besef dat ék ander mense al minder
en minder sal oordeel. Dit is nie ék wat op die troon sit om te oordeel
nie.

As ons die oordeelsdag nie reg verstaan nie, sal dit ons met verskrikking
vervul. Want... word ons dan nie geoordeel op grond van ons gedagtes
én dade nie? En veral op grond van ons barmhartigheid nie? Wie sal so
‘n oordeel kan deurstaan? Ons weet wat ons dikwels dink... waarvan net
ons en die Here weet... Ja, ‘n mens wil vlug van die oordeelsdag as jy so
daaraan dink. Die belangrike is egter dat die regterstoel die regterstoel
van Christus is! 2 Kor. 5:10 sê dit duidelik. Dit is weliswaar ‘n plek waar
reggespreek word, waar regverdig geoordeel word, waar geregtigheid
en waarheid heers. Maar: Ons oneindige troos is juis dat dit Jesus is wat
op die regterstoel sit! Ons is nie uitgelewer aan ‘n aardse regter, heerser
of koning nie.

Ons kén Hom wat op die troon sit! Hy ken ons. Sy hart klop vir ons. Dit is
dieselfde Jesus wat ons liefgehad het tot die dood toe. Selfs toe ons die
spykers in sy hande geslaan het en op Hom gespoeg het. Hy en Hy alleen
het namens ons voldoen aan die standaarde van God se geregtigheid en
waarheid. Daarom kan ek voor die regterstoel van Christus verskyn sonder
vrees, maar getroos. Jesus sit daar as die Een wat met my plekke geruil het.
Waar ék onder die oordeel van God ten gronde moes gaan, het Hy dit
gedoen. Waar ék die toorn van God moes dra, het Hy dit in my plek gedoen.
Jesus was reeds in my plek voor die regterstoel van God, sodat ek sonder
verskrikking daar kan staan. Ek kan die toets van oordeel deurstaan omdat
Jesus dit in my plek deurstaan het.
“Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar
behandel, sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God
vrygespreek kan wees.” – 2 Kor. 5:21.

Die straf wat vir ons bedoel was het op Christus neergekom.
Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons kan bid: Here Jesus, laat my minder op my regte staan. Ek gaan ook
voor U regterstoel staan. Oordeel my tog op grond van U genade, en nie
op grond van my dade, gedagtes en barmhartigheid nie. Jesus, U het in
my plek gestaan, ek prys U Naam.

Ernest