Die gedagte aan die eindoordeel gaan teen die natuurlike mens se grein in.
Veral een gedagte is vir die mens te veel: Dat God, wat ons so deur en deur kén,
ons moet en sal oordeel. Die mens kan eenvoudig niks wegsteek by Hom nie.
Ons staan oop en bloot in die oordeel. Wie egter iets van die wonderlike
evangelie van verlossing verstaan, hoef die oordeel nie dood te praat of weg
te wens nie. Want die evangelie sê dat die oordeel nie net van ons afgewend
kán word nie, maar dat dit deur geloof in Jesus Christus van ons afgewend ís!

Die boodskap is so duidelik: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste
Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die
ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld
te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom
glo, word nie veroordeel nie...” – Joh. 3:16-18a. Wie in Jesus Christus glo, word
nie veroordeel nie! Maar vers 18b gaan ook verder:
“... die wat nié glo nie, is reeds veroordeel...”

Dat ons voor die regterstoel van Christus staan is ook ‘n wonderlike
openbaar-making van geloofs-geheimenisse wat ons nou nog nie verstaan nie.
Ons verstaan in hierdie lewe nog nie alles nie. 1 Kor. 13:12 stel dit so: “Nou kyk
ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons
alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten
volle ken soos God my ten volle ken.”

Wat ‘n wonderlike dag is dit nie vir kinders van God nie! Soveel dinge gaan vir
ons in volle heerlikheid sigbaar word. Maar ook dit is net moontlik deur die
eindoordeel heen. Ons word dan as’t ware gereed gemaak om die volle
heerlikheid in te neem en te ervaar. Daarom verbly ons ons in hierdie lewende
hoop en staan ons vas in verdrukking, met die oog gevestig op Jesus, die Begin
en Voleinder van ons geloof.

Ons kan bid: Here Jesus, ek is vrygespreek, want U het in my plek die oordeel
gedra aan die kruis. Here Jesus, ek glo! Kom tog my ongeloof en kleingeloof
te hulp. Verruim my visie, sodat ek vreugde in U ervaar.

Ernest