In ons Geloofsbelydenis word duidelik onderskei tussen die oordeel
oor "die wat nog lewe" en "die wat reeds gesterwe het". Waarom?
Dit hou verband met die feit dat sommige van die vroeë Christene
verward was toe van hulle medegelowiges gesterf het voordat die
Here weer gekom het. Hulle het die koms van die Here Jesus nog in
hulle eie leeftyd verwag - 1 Tess. 4:13-18.

Daar is ook 'n tweede rede: Met die uitdrukking "dié wat nog lewe",
sê ons geloofsbelydenis dat die wederkoms op 'n spesifieke dag in
die geskiedenis gaan plaasvind, naamlik, op 'n dag waarin mense
nog lewe. Dit is 'n realiteit in die komende werklikheid! Dit sal 'n
dag wees soos enige ander dag. Op so 'n gewone dag kom Jesus.
Maar, daardie gewone dag sal dan met sy koms 'n besondere dag
wees!

Daarmee wil die belydenis veral drie waarhede beklemtoon.
Eerstens: dat die wederkoms 'n historiese aangeleentheid is.
Dit gebeur in die werklikheid van tyd.
Tweedens: dat ons waaksaam moet wees en waaksaam moet lewe.
Derdens: dat alle lewendes, ook die maghebbers en vreesaanjaendes
van hierdie wêreld voor God sal staan en deur Hom geoordeel sal
word. Voor God is die grond waarop ons staan gelyk.

Jesus se koms is nie iets wat die mens uitgedink het nie. Jesus het dit
Self in sy Persoon kom sê. Dit gaan 'n historiese en ware werklikheid
wees, net soos sy eerste koms. So seker as wat die son skyn en ons
op aarde in 'n wentelbaan om die son is, so seker as wat ons dag en
nag sien, so seker is Jesus se tweede koms, op die wolke. Dit is selfs
"meer" seker as dit... want God sê só!

"Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle
wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in
selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker! "Ek is die Alfa en die Omega,"
sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige."
- Openbaring 1:7-8.
"Hy wat dit alles getuig, sê: "Ja, Ek kom gou!" - Openbaring 22:20

Ons kan en wil bid: "Amen! Kom, Here Jesus!" - Openbaring 22:20

Ernest