Ons bely in ons Geloofsbelydenis dat Jesus weer kom om die te oordeel
wat nog lewe en die wat reeds gesterf het. Wat sê dit vir ons wat “nog lewe”?
Dit wil onder ons aandag bring dat ons waaksaam moet wees en wakker moet
leef. Die wederkoms gaan op ‘n gewone dag plaasvind wat ons dit nie verwag
nie. Deur die eeue heen is daar tekens wat ons aan die Here se koms herinner.
Lees gerus Matteus 24:1-31 hieroor. Die presiese dag en uur weet ons egter nie.
Selfs nie die engele in die hemel, of die Seun Self weet nie. Net God die Vader
weet dit – Matteus 24 vers 36. Daarom maan Markus ons in Markus 13:32-33:
“Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die
tyd daar is nie.”
Wat beteken dit dat ons waaksaam moet wees? Matthew Henry het dit so
beskryf: “Om te waak behels nie net ‘n geloof dat ons Heer kom nie, maar
‘n verlánge dat Hy moet kom. Dit beteken om dikwels aan sy koms te dink
en altyd na sy koms uit te sien as iets gewis.”
Van hierdie waaksaamheid waarmee ons moet lewe sê Petrus: “Wees dus op
julle hoede dat julle nie meegesleep word deur die dwaling van beginsellose
mense en so van julle eie standvastigheid beroof word nie. Sorg daarenteen
dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser,
Jesus Christus” – 2 Pet. 3:17-18. Lees gerus weer hierdie vers.
Dit is so belangrik in die tye waarin ons leef en waar daar soveel dwaling is
rondom die leer van die Woord van God. Wees dus op jou hoede!
Leef standvastig in jou geloof. Neem toe in die kennis van ons Here en
Verlosser Jesus Christus. Leef in sy genade. Om waaksaam te wees is om
wakker te wees. Nugter. Gereed. Jy weet en leef uit die realiteit dat Jesus
nóú kan kom. Jy weet Hy is deurgaans komende!
Leef daarvoor, en bid opreg daarvoor.
Ernest