Alle mense gaan rekenskap gee aan God oor hulle doen en late.
Die wat nog leef met die wederkoms, en die wat reeds gesterf het.
Die vroeë kerk het seker dadelik aan mense soos die Romeinse
keiser gedink wat hulle vervolg het. Mense uit die wêreldoorloë
sal ook dink aan geweldenaars soos Hitler. Mense van vandag sal
dink aan mense wat die oorsaak is van onreg in hierdie wêreld.
Ons sal graag name wil noem, en dink en sê dat hierdie of daardie
persoon se dag sal kom...

Feit is: die laaste woord in hierdie wêreld word nie gespreek
deur hulle wat op die politieke- of mags- podiums staan nie.
Die geskiedenis is nie bloot ‘n reeks skuiwe wat mense in
magsposisies maak nie. Almal, ook ons, ook ék, moet uiteindelik
voor die troon van God verskyn. Elkeen sal rekenskap gee van jou
motiewe, dade en planne. Hierdie wete moet ons dring tot eerlike
selfondersoek. Hoe dink ons en hoe tree ons op teenoor letterlik
elke mens wat ons pad kruis. Dit dring ons tot verootmoediging
voor die Here. Om te bely en met opregte harte sy wederkoms
tegemoet te leef.

Maar bogenoemde wete troos ons ook! Ons lewe is nie uitgelewer
aan mense nie. Ons eindbestemming word deur geen mense bepaal
nie. Nie deur die politici, wetenskaplikes, ekonome of wie ookal nie.
Dit is nie hulle wat die aarde laat draai nie. God is in beheer.
Wanneer daar onrus onder die volke is en die nasies planne smee
teen mekaar, ja, selfs wanneer die mens planne smee teen God en
die mense van God, sy kinders, lag Hy wat in die hemel woon hulle
uit en spot Hy met hulle – Psalm 2:1-4.

Ons kan bid: Here Jesus, U is die Begin en die Einde, van alles en almal.
U wat is, en wat was, en wat kom, die Almagtige. Ons aanbid U.
Ek aanbid U. Kom Here Jesus. Kom gou.

Ernest