In die sewende artikel van die Twaalf Artikels, ons Geloofsbelydenis,
bely ons: “Ek glo in die Heilige Gees”.
Die Heilige Gees is die derde Persoon in die heilige Drie-Eenheid.
Die eerste deel van die geloofsbelydenis handel oor God die Vader en
God die Seun. Nou bely ons die derde Persoon van die Drie eenheid.
Kort en kragtig: “Ek glo in die Heilige Gees”.
Weet ons minder van die Heilige Gees, of moet ons minder oor Hom sê?
Nee. Die Heilige Gees is Self ware en aanbiddelike God. Ons vergeet dit
dikwels en spreek in ons gebede net die Vader en die Seun aan. Dit is nie
verkeerd nie, maar ons kan en moet die Heilige Gees ook as ware God
aanbid. Die Here is die Gees! – 2 Kor. 3:18.
Hoekom bely ons die Heilige Gees dan so “kortweg”?
Die eerste rede is omdat dit die besondere taak van die Heilige Gees is om
Christus en die Vader te verheerlik, en nie Homself op die voorgrond te
plaas nie. Die Heilige Gees lei ons in die voorafgaande artikels van ons
geloofsbelydenis en maak aan ons duidelik Wie God die Vader en God die
Seun is. In ‘n sekere sin, menslik gesproke, tree die Gees agter die Vader
en die Seun in. Daarom sê Jesus: “Wat Hy (die Gees) sal sê, sal nie van
Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan
kom, aan julle verkondig.” – Joh. 16:13. Sonder die Gees sou ons nooit die
Vader en die Seun kon ken nie. God moet ons help om God te leer ken.
God doen dit deur die Gees.
Die tweede rede hoekom die Geloofsbelydenis so kort en kragtig oor die
Heilige Gees praat, is omdat die gevaar van “subjektiewe verwarring” hier
so groot is. Omdat die Heilige Gees op ‘n besondere manier mét en ín
mense werk, kan dit maklik gebeur dat mense later hulle geloof laat rus
op hulle subjektiewe ervarings, met ander woorde,
hulle “innerlike belewing” van die Heilige Gees. Daarmee word nie bedoel
dat hierdie ervarings noodwendig oneg of verkeerd is nie. Die Heilige Gees
laat ons verseker emosie ervaar. Maar die belangrike is dat ons nie in die
ervarings moet glo nie maar in die Gees! Daarom bely ons kort en kragtig:
“Ek glo in die Heilige Gees.”
Ons moet die volgende onderskeid goed verstaan: Die Heilige Gees gee wel
aan ons die heerlikste ervarings van God se genade en teenwoordigheid.
Dit is immers die werk van die Heilige Gees. Maar, en dit is belangrik, dié
ervarings gee nie aan ons die Gees nie! Daarom moet ons geloof nie wankel
as ons nie die Gees “beleef” of “ervaar” nie. Ook dan werk die Gees, want
niks kan Hom stuit nie. Ons moet egter, met eerbied gesê, nie die “wa” van
ervaring vóór die “perdekrag” van die Gees inspan nie.
Glo en vertrou in die Heilige Gees!... met of sonder ervarings.
Ons kan bid: Gees van God, dankie dat U die Vader en die Seun aan my
bekendstel. Skenk aan my die geloof. Dit is genoeg. Help my besef dat ons
lewe deur geloof, nie deur te sien nie. (2 Kor. 5:7.)
Ernest