Die Heilige Gees is nie ‘n onpersoonlike krag nie. Hy is volledig Persoon
soos die Vader en die Seun. Ons weet die Vader is liefdevol, genadig,
barmhartig, en nog oneindig meer as wat ons kan dink of beskryf.
So ook die Seun, wat selfs ook op aarde was en beleef is deur die mense
rondom Hom. Maar dit is ook so van die Gees, dat Hy volledig die Persoon
van God is. Hy is die derde Persoon van die Drie-enige God wat praat, luister,
leiding gee, herinner, vermaan. Volgens Ef. 4:30 kan die Gees selfs bedroef
word! As Persoon is Hy altyd by ons, in ons! Dit is die wonderlikste troos om
te weet dat ons nooit ooit alleen is nie! Hy luister, verstaan.
Hy verander verskriklike eensaamheid in heerlike twee-saamheid.
Wanneer ontvang ons die Heilige Gees?
Hoe weet ek dat ek die Heilige Gees ontvang het?
Eerstens: Die drie Persone van die Drie Eenheid is een Wese. Wanneer jy
Jesus ontvang omdat jy in Hom glo, ontvang jy ook die Vader en die Gees.
Hierdie Drie eenheid is onskeibaar God. Daarom sê Rom. 8:9: “As iemand
die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.” Dit is
onmoontlik om gered te wees sonder om die Gees in jou te hê – sodat jy
nog meer en meer met Hom “vervul” moet word. Daagliks.
Tweedens: Alhoewel ons die Gees ten volle ontvang, as Persoon, beteken
dit nog nie ons is ten volle aan Hom gehoorsaam nie. Ons moet groei deur
die Gees om ten volle onder sy beheer te lewe. Daarom roep Ef. 5:18 ons
op: “Laat die Gees julle vervul.”
Derdens: Dit is alles ‘n saak van geloof. Glo dat die Gees in jou woon.
Wy jou toe aan Hom. Glo dat Hy jou lei in vervulling en groei.
Leef uit dié geloof!
Glo jy is die woonplek van God! 1 Kor. 6:19: “Of besef julle nie dat julle
liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie?” Dit is ‘n geloofsaak, en
daarom bely ons dit in ons Geloofsbelydenis. Paulus bid vir die Efesiërs
“dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon” – Ef. 3:17. Hierdie
inwoning in ons is tot ons heil, red ons, heilig ons, verheerlik ons...
Waarlik, om te bely: “Ek glo in die Heilige Gees”, sê baie meer as wat
ons kan bedink of bid. Dit is Goddelik! Dit is Groot.
Ons kan bid: Heilige Gees, ek bedroef U so dikwels, met woorde, dade,
gesindhede... Help my om U te verbly. Vervul my weer en weer, tot die
volheid van God. Dankie Gees, Heilige Gees, U woon in my. Wonderlik!
Wonderbaarlik!
Ernest