Hiervan lees ons in Matteus 19:13-15:
“Op ‘n dag het ouers hul kindertjies na Jesus toe gebring
sodat Hy vir hulle kon bid.
Sy dissipels het hulle egter daaroor aangespreek.
Maar Jesus se reaksie was:
“Laat staan die kindertjies.
Moenie hulle keer om na My toe te kom nie,
want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.”
Dit gaan hier oor die hart van die Evangelie.
Daarom tree Jesus so op teenoor sy dissipels.
Die dissipels soek volgelinge vir Jesus, nie kinders nie.
En daarmee maak hulle, waarskynlik onwetend,
iets soos nut, en waarde, en prestasie voorwaardes
vir die toegang tot die koninkryk van God.
Die sleutel vir die verstaan van die gedeelte is:
“God se koninkryk is juis bedoel vir mense soos hulle.”
‘n Franse priester, Michael Quoist, het insiggewend hieroor geskryf.
Hy sê God hou van “volwassenes wat nog kinders is.”
God se beeld in kinders het nog nie soveel vervaag nie, sê hy.
Hulle groei nog steeds. Hulle is nog steeds op pad met lewenslus.
Volwassenes wil nie meer groei nie.
Hulle het ‘n punt agter hulle lewens geplaas.
Dit is ‘n ramp, sê hy.
Volwassenes dink hulle het reeds hul bestemming bereik,
terwyl die hele lewe eintlik ‘n reis tot die einde toe is!
Bly soos ‘n kind naby aan God.
Lewenslustig! Verwonderd! Nederig.
Ontvang die koninkryk soos ‘n kind!
Ernest