“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” – Gal. 5:25.
Die Heilige Gees se inwoning in ons is egte “in”-woning. Ons weet dat menslike
inwoning bymekaar ook sy kwota stryd meebring. Dink maar aan kinders en
ouers onder dieselfde dak. Of loseerders. So is daar ook stryd tussen ons en die
Heilige Gees wat by ons “in”-woon. Paulus noem dit die stryd van ons sondige
natuur teen die Gees: “Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die
Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer.
Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar...” – en dan maak Paulus hierdie
belangrike afleiding – “Daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie...”
– Gal. 5:17. Maar hy gee ook hierdie raad: “Ons lewe deur die Gees, laat die
Gees nou ook ons gedrag bepaal” – vers 25.

Die Heilige Gees het waarlik oneindige geduld met ons. Ons bedroef die
Gees so dikwels. Ons raak ook self gefrustreerd daarmee dat ons dit doen.
Dit lok egter drie reaksies by ons uit, ons wat waarlik onder beheer van die
Gees wil leef:
Eerstens: Dankbaarheid teenoor God vir genade en geduld met my,
deur die Gees.
Tweedens: ‘n Groter óngeduld met my eie sonde. Dit help my om te groei
in vervulling met die Gees.
Derdens: ‘n Groter geduld met ander mense wat, soos ek, worstel met
die sonde in hul lewe.

Die Heilige Gees maak nie net van my sy woonplek nie, maar ook sy werkplek.
Dit is verstommend! Die Heilige Gees bewerk in my roeping, wedergeboorte,
geloof, bekering, regverdigmaking, heiligmaking, volharding en verheerliking.
Dit is eenvoudig onbeskryflike genade!... die werk van die Gees in my lewe.
Niks kan hierby toegevoeg word nie! Hy lei ons in die hele waarheid sodat ons
Hom uit genade kan volg. Die Gees doen nie negentig persent en ons tien
persent nie. Die Gees doen alles. Honderd persent. Hy help ons nie net sodat
ons dan onsself kan help nie. Nee. Dink mooi: Hy verlos ons volkome,
sodat óns volkome dankbaar teenoor God kan wees, en dankbaar kan lewe.

Ons kan bid: Heilige Gees, dankie dat U my heilig. Ek gee alles, my hele lewe,
omdat U alles gee, en alles moontlik maak om kind van God te wees.
Ek is so dankbaar. Ek wil, ek gaan, dankbaar leef.

Ernest