Wanneer die Heilige Gees werk skakel Hy ons nie uit nie.
Hy maak juis van ons medewerkers in diens van God – 1 Kor. 3:9.
Hoewel ons medewerkers is, weet ons ook dit is die Gees wat ons
medewerkers máák. Ons kan nie uit eie krag, of insig, of wysheid nie.
Die Gees maak aan die een kant van ons bedelaars wat niks anders
kan doen as om te ontvang nie. En aan die ander kant is ons ook
medewerkers wat juis alles vir God wil doen. Dit is ‘n wesentlike
deel van geloof wat die Gees in ons werk, want, “geloof wat nie
tot dade kom nie, is dood.” – Jak.2:26. Dit is die Gees én ons.
En ons, én die Gees.
Sedert Jesus se hemelvaart sit die Gees die werk van Jesus op aarde
voort. Deur die werk van die Gees is die verlossing wat Jesus gebring
het wêreldwyd versprei. Deur die Gees is die boodskap van Jesus gedra
na Jerusalem, sowel as die hele Judea en Samaria, en “tot aan die
uithoeke van die wêreld” – Hand. 1:8.
Deur die Heilige Gees volhard die Here in die agtervolging van die
sondaar-mens. Die Heilige Gees gebruik kinders van God om getuies
te wees tot aan die uithoeke van die aarde.
Ons moet van binne verander word. Die Bybel noem dit wedergeboorte
en bekering. Dit is die werk van die Heilige Gees om ons so te verander.
Ons word verander op grond van God se ontferming. Titus 3:5-6 sê:
“Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en
deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees
oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.”
Ons kan nie self verander nie. Al probeer ons die hele lewe lank.
Laat God die Gees dit doen. Ons moet núút lewe. Net die Gees doen dit
in ons. Want iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens! Die oue
is verby, die nuwe het gekom – 2 Kor. 5:17. Elke boom word aan sy vrugte
geken – Lukas 6:44. Deur sy Gees werk God in ons, en is Hy magtig
“om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink” – Ef. 3:20.
Die Heilige Gees doen alles, en maak ons sy medewerkers,
en doen dan steeds alles, deur ons.
Ons kan bid: Heilige Gees, verander my. Vernuwe my. Gees van God,
maak my U boom wat U vrug dra.
Ernest