Met die koms van die Gees op Pinksterdag beweeg Hy soos
‘n kragtige wind. “Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos
van ‘n geweldige stormwind…” – Hand. 2:2.

Die Nederlandse teoloog, Herman Bavinck, gee ‘n mooi beskrywing
daarvan om te illustreer watter verskil die Heilige Gees maak in die lewe
van gelowiges en die kerk van die Here Jesus. Die gelowige en die kerk,
sê Bavinck, kan soos ‘n skippie wees wat op die diep oseaan in ‘n windstilte
dobber sonder om in enige rigting te beweeg. Jy kan selfs al die seile span,
maar dit het geen nut nie. Daar gebeur steeds niks. Jy kan uur na uur op
dieselfde plek bly. Selfs as die seestrome jou meesleur het jy eintlik geen
rigting nie. Jy weet nie eers dat dit gebeur nie.
Maar, wanneer die wind begin waai verander die hele prentjie. Die seile
staan bol in die wind. Jy span die seile na die wind. Daar is stukrag in die
seile. Die boeg breek die water. Die skip beur vorentoe met krag. Die stuur
en die wind gee rigting. Jy is op pad na jou bestemming. Doelgerig.

Met die koms van die Heilige Gees is daar nié windstilte nie – Hand. 2:2.
Die Gees beur ons vorentoe na God se bestemming. Die mees sinlose wat
ons kan doen is om die wind te ervaar, maar nie ons seile te span nie.
Om nie gehoorsaam te wees aan die Gees nie. Of om “manmoedig” self
te probeer roei, selfs teen die wind!... Om die krag van die Gees van God
in die wind te slaan.

Hoe kan ons die seile van ons lewe in gehoorsaamheid span om die krag
en leiding van die Gees te ervaar? Hoe kan ons na die wil van God soek in
die leiding van die Gees?
Die Gees lei ons deur die Woord van God. Die Bybel gee nie vir alles pasklaar
antwoorde nie. Die Woord van God gee wel oorgenoeg beginsels waarin die
Gees ons lei om die wil van God te doen. Dink aan die beginsels van liefde,
vergifnis, mededeelsaamheid... en nog baie ander. Hierin gee die Gees ons
wysheid en verhelder ons geestesoë – Ef. 1:17-18. Daarom raak ons nooit
klaar gelees aan die Bybel nie.

Laat die Heilige Gees toe om dit vir jou die lewende Woord van God te maak.
God raak nooit uitgepraat in die Woord van God nie. God hou nie op met
praat uit die Woord nie. Dit gaan nie net om Bybelkennis nie, maar die leef
van die Woord van God in gehoorsaamheid. Hierin lei die Gees jou, deurgaans,
sonder ophou, wanneer jy afhanklik van Hom leef deur die Woord. Doen dit!

Ons kan bid: Heilige Gees, breek die windstilte in my lewe. Laat my leef met U
stukrag in my lewe. Ontbrand my hart vir God. Stuur my in die rigting waar U
my wil hê. Gee dat U wil, ook mý wil sal word.

Ernest