Saam met die riglyne in God se Woord, is ook gebed uiters belangrik
in ons soeke na God se wil, deur die Gees.
Die krag van gebed onder leiding van die Heilige Gees, en deur die Gees,
is geweldig groot. Dit is juis die Gees se priesterlike taak om ons in ons
gebede te “dra”, want, “ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie,
maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê
word nie.” – Rom. 8:26. Die Gees omskep ons gebede só dat God ons
“reg hoor”, en beantwoord.
God antwoord ook nie altyd soos ons dit graag sou wou hê nie.
Dit is ‘n goeie teken, want hoe ironies dit ookal klink, as God ánders
antwoord, is dit steeds sý wil wat ons eerder wil doen. Die beste gebede
wat ons bid is dikwels die wat “onbeantwoord” bly in terme van ons wil.
Martin Luther beskryf dit so: “Dit is die allerbeste teken wanneer,
as antwoord op ons gebede, skynbaar die teenoorgestelde gebeur.
Net so is dit ook geen goeie teken wanneer, as antwoord op ons gebede,
alles na wense verloop nie. God gaan soms teen ons gedagtes in, sodat
dit lyk of Hy ná ons gebede nog meer toornig op ons is, as vóór ons gebede.
Dit doen Hy alles slegs omdat dit sy aard is om eerste verwoes en tot niet
te maak wat in ons is, voordat Hy ons sy gawes skenk.”
God antwoord soms teen ons grein in. Soms moet Hy verwoes en tot niet
maak sodat sý wil in ons gebede kan seëvier. Dit mag vandag so wees in
my gebede... As God my gebede verhoor soos wat ek gebid het, wees bly.
As Hy dit nie gedoen het nie, moenie minder bly wees nie. Dit beteken sy
gawes aan my is op pad, maar die weg daarvoor moet berei word
deur die Gees.
Ons kan bid: Heilige Gees, ek bid, en luister hoe U my lei om te bid.
Help my om U helder te hoor en helder te bid. Dankie dat U beter
vir my pleit as wanneer ek alleen wil pleit...
Ernest