Die Heilige Gees staan ons by wanneer ons bid. Hy omvorm ons gebede
dat dit binne die wil van God sal wees. Hy buig as’t ware ons krom en skeef
gebede “reguit” en maak dit kragtige gebede. Daarom benadruk Paulus:
“Doen... alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees”
– Ef. 6:18. Ons kan veral in ons gebede nie sonder die Gees nie.

Ons moet egter ook onthou dat die Here vir ons gesonde verstand gegee het
wanneer ons vra na God se wil. Ons moet dit reg verstaan: Die Here lei ons
meestal op ‘n heel natuurlike manier, so dat ons dit dikwels nie eers agterkom
nie. Daarom is jou gesonde verstand nie sonder meer verkeerd nie. Die Heilige
Gees lei juis ook daardeur op ‘n heel “gewone” manier. Filippense 2:13 sê God
maak ons “gewillig en bekwaam om sy wil uit te voer.” Bestudeer daarom ook
die Woord van God en bid die Here om jou deur sy Gees daarin te lei. Neem
dan met jou verstand gesonde besluite soos die Gees jou lei deur die Woord.
Vertrou die Here in opregtheid, in die leiding van die Gees.

Die Here lei ons ook deur sy Gees deur uiterlike omstandighede. Die Gees is
orals in die wêreld en in die geskiedenis aan die werk, en nie net in die kerk
en in gelowiges nie. Ons kan nie die werk van die Gees beperk nie. Die Heilige
Gees sit Jesus Christus se koninklike heerskappy voort hier op aarde. Die Heilige
Gees was op die manier ook al reeds voor Christus se koms werksaam. Tydens
die skepping – Gen. 1:2, en deur die loop van die eeue tot vandag toe.

Die Gees dui die rigting aan wat God wil hê ons moet inslaan.
Paulus en Timoteus ervaar dit byvoorbeeld tydens hulle tweede sending-reis.
Ons hoor dat die Gees hulle “verhinder” het om die Woord in Asië te verkondig,
en dat Hy hulle “nie toegelaat het” om na Bitinië te gaan nie – Hand. 16:6-7.
Hoe die Gees dit presies gedoen het weet ons nie. Ons kan egter aanvaar dat
gewone omstandighede baie daarmee te doen gehad het. Ons getuig ook baie
kere daaroor hoe die Here ons in omstandighede gelei het. Só maak die Here
vir ons deure oop of toe... Openbaring 3:8.

Prakties beteken dit dat ons ons oë en ore moet oophou, dat ons nugter
moet dink en moet raaksien hoe die Gees ons lei. Hou op om jou kop te bly
stamp teen ‘n deur wat die Here toegemaak het. En moenie by deure
verbystap wat die Here vir jou oopmaak nie. Wees sensitief vir die leiding
van die Gees. Leef by die Here. Leef saam met die Here. Leef deur die Gees.

Ernest