Jesus Christus gee Self ook ‘n aanduiding van die werk van
die Heilige Gees.
In sy laaste gesprekke met sy dissipels praat Hy oor die werk
van die Heilige Gees. Jesus het Hom genoem die Voorspraak
wat sou kom – Johannes 16:7, 1 Joh. 2:1.
Volgens Johannes 16:8 behels dié werk van die Gees onder
meer drie sake:
Hy sal bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde,
dat die reg aan Jesus se kant is,
en dat die oordeel al gekom het.

Die eerste wat die Gees dus doen is om die wêreld te oortuig
van sonde, want die wêreld glo nie in Jesus nie – Joh. 16:9.
Ons weet hoe moeilik mense erken dat hulle sondaars is.
Ons weet hoe maklik verontskuldig ons onsself! Ons dink aan
allerhande redes om geen of min skuld te dra. Ons hele wese
skop teen skulderkenning. Ons projekteer so maklik die skuld
op ander. Adam sê dit is Eva, en Eva sê dit is die slang... al van
die begin af.

Ons gee selfs die duiwel die skuld. Maar dit is ons wat die
duiwel gehoorsaam in sonde wat ons doen...
Die Heilige Gees deurbreek ons skuldverplasings (“blame-shifting”),
ons skuld-projeksies.
Die Gees laat ons sien wie en wat ons werklik is. Hy openbaar ons
opstand teen God en teen Jesus as Verlosser en Here.

Ons kan bid: Heilige Gees, buig my vinger om na myself, om my
skuld te aanvaar. Maak my oë oop vir God ons Vader se genade,
en die vergifnis in Jesus Christus.

Ernest